Monday, 11 May 2009

BRIEF SEWE

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 18 March 2001

Liewe Afrikaners – landgenote

Ek dog julle sal die volgende gestewelde staaltjie van die Johanneskronieke in Korea saam met my geniet.

Soos in alle Oosterse lande skop ons hier in Korea ook ons skoentjies by die voordeur uit. Aan die begin het ek veters aanmekaar laat knoop en op sokkies gegly en amper een keer iemad anders se skoene op my uittog vanuit iewers aangetrek. Maar mettertyd verfyn ‘n mens die hele proses tot ‘n skoentjie-uitskop en –aanpluk ritteltit wat Kruik se balletgeselskap sou gehaal het.

My kollega, Pieter die ouere, suggereer toe dat ek vir my sulke preutse flip-on’s koop, wat nóg geslag, nóg styl, nóg geld kos. Vir ‘n skamele R12 koop ek vir my hierdie vaalgrys en rooi gestreepte lapskoentjies, met sulke masseringspunte op die binnesole en ‘n dofbruin label wat voetgrootte in die middel van die skoen vasgewerk is en ‘n albatros met ‘n vliegende voël daarby aandui. In plaas van nou op my sokkies rond te gly, glip ek die nerd’s de luxe nommers aan my voete en van die enkels af ondertoe, lyk ek soos een van daardie kinders wat ons liefs op skool sou vermy (dis nou as dinge van die vlees prioriteit nommer een in onse skoolse lewens was).

Maar die skoentjies, soos dit soms met minder visueelbedeelde dinge in die lewe gaan, word een van my gunstelingmomente uit my wardrobe, en ek trippe en flip op en flip af deur my twee tree by twee tree kombuis tot in my vier tree by vier tree kamer, met gemasseerde voetsole en g’n glip of val of glyoomblikke nie. Ek moet bieg dat ek nog altyd so ‘n effense ding oor styl en ‘n tikkie dramatiese flambojansie gehad het. Deur die genade is dit net Sok Jin wat my, in die intimiteit van ons binnekamer, met die koekierige trappers aan beskou – alhoewel ek vermoed dat Sok Jin heeltemal onbewus van my worstelstryd rondom die vleeslike flair of flairloosheid is.

Want, met alle respek aan my Koreaanse broeders en susters, sommige trek kleertjies in die openbaar aan waarin ‘n mens miskien nie jou huis op ‘n Maandagmôre sou skoonmaak nie. Dit is sulke sweetpakkerige ontwerpe met reselabels op, of nogal mooierige grys wollerige rokke, maar dan het iemand dit godgedink om “little kitty” in groot silwerwit letters op die bors vas te stryk. Al te pragtig.

Terselfdertyd moe ek sê dat jy ook die ander ekstreem van besondere stylvolheid kry van ontwerperskoene en dramaties/simplistiese snyerspakkies in kleure van diepgrys en blouswart en intensbruin en grys en swart. In Pung Nap Dong, waar ek huishou, loop die Koreaanse ooms en tannies en seuns en dogters meer dikwels in die sweetpakkerige little kittie’s rond en die geskoeisels sou ‘n treffer op ‘n bazaar sale by die Kaapse parade gewees het.

Sok Jin staan met sy twee voete tussen die soms ‘n label met ‘n sweetpak en soms ‘n meer gekultiveerde momentjie plat op die aarde. So vlieg hy een aand styf teen middernag van ons kookwaterbed af op en beduie iets van iets gaan koop. Ek verwag dat hy tien minute later met water en appels by die voordeur een van sy twee paar skoentjies gaan uitskop, maar ‘n halfuur later is daar nog taal nog tyding van ons Sok Jin. Teen half een in die môre kom ‘n spending sprek gelukkige Sok Jin met ‘n wit sak lap die huis binne. (As ek nou na Sok Jin en spending spree in dieselfde asem verwys, bedoel ek drie kledingstukke per seisoen). Hy’t om middernag gaan klere koop.

Die eerste toevoeging tot sy klerekas is een van daardie nou-sien-jy-die-label, nou-sien-jy-die-sweetpak, nou-sien-jy-my sweetpakke met ‘n lewensgrootte Nike-embleem in spierder as spierwit op ‘n bottelgroen sweetpakagtergrond. Die tweede aankopie is hierdie regte stylvolle warm, dik, groen trui met ‘n ritssluiter en lang arms en ‘n effense polonek – alles waarvan ek in ‘n trui hou.

Ek kwyl en dribbel en drip onmiddellik voor Sok Jin se voete oor waar die trui vandaan kom en kan ek ook een kry. Sok Jin probeer eers in sy suiwer kinderlike goedheid wegkom met: jy kan maar my trui van tyd tot tyd by my leen, maar ek hou voet by stuk e wil ook en wanneer en hoeveel en presies waar, tot Sok Jin uiteindelik belowe om my ook op ‘n middernag shopping ekskursie te neem.

Hoewel julle dalk mag dink dat ek erg voorwaarts in my truikoopbehoeftes is, sal net iemand wat aan langarmneurose ly, werklik verstaan. Nooit kry jy ‘n ding waarvan die arms nie na jou elmboë toe optrek nie, sodat as jy die keer ‘n amper te ang arm gewaad oor jou polse voel gly, is jy bereid om dit teen enige prys selfs van die persoon se lyf af te koop.

Intussen raak Sok Jin bedrywig met kar drywe vir’n vriend van hom wat gaan trou en ek word impotent in my truikooplus gelaat. Soos ek op en af loop en soek na Sok Jin se peasantboetiek, sien ek al hierdie Koreaanse seuns met sulke seksie skoentjies aan. Hulle dra, net soos ons Waterfront se kindertjies, band-oor-die-brug-van-die-voet Hang Tennerige ontwerpe saam met wit sokkies en swaai boud van kaffe tot pc (dis wat hulle internet hier noem) tot e-mart tot busstop tot huis. Hulle maak my heeltemal lus. En by gebrek aan Sok Jin en trui, koop ek vir die eerste keer in my lewe vir my jonglat flippende floppe en met grys sokkietjies en donkerblou en wit gestreepte seksie nommertjies flip flop ek nou self ook op pad na die pc.

Uiteindelik kry Sok Jin se vriend klaar getrou. Een aand kom ek by die huis met Sok Jin op sy kookwaterbed en ek sê: staan op, staan op. Dis tyd vir die trui. Sok Jin is heeltemal te mooi en ordintlik om nee te sê en hy trek sy kanariegeel en rooi label sweetpak aan en ek skop my seksie skoentjies tussen die bondel by die voordeur aan my voete e ons loop deur Pung Nap Dong/sone/lokasie op soek na my trui.

Ek voel so lekker vry en tienerhormone wel op in my. Ek trap my seksie skoentjies hier en ek trap my seksie skoentjies daar. Ek is oortuig almal kyk vir my.

By die winkel kry ons dieselfde styl as Sok Jin se trui – dis net in dié millennium se swart: diepgrys. (Ek het eenkeer in ‘n modetydskrif gelees: die swart van die nuwe millennium is grys. ?) Ek is eintlik bly dat ek ‘n trui in ‘n ander kleur as Sok Jin s’n kan kry en net vir die wis en die onwis pas ek dit aan vir arm-lank-genoeg en lig van gewig om die skouers. Sok Jin beduie spieël se kant toe en ek gaan besigtig die vonds van ‘n trui met die wonder van lank genoeg moue in die hoek voor die spieël.

Ek besluit toe sommer om net vir regte lekker ydelheid ‘n vinnige loer na my seksie skoentjies in die spieël te gee.

Met die afkyk voete toe, voel ek asof ek in een van daardie kindertydse nagmerries is, waar jy by die skool sonder jou onderste gedeelte van jou uniform aankom, want, dames en here, in die refleksie voor my staan Johannes met niks minder as sy dooslike huistrappers met die masseersle en die ovaalvormige label wat albatros sê en die hele skoen bedek, in kommin grys en getjekte, gelapte rooi nie. In my euforia van wil gaan trui koop, het ek met my kop in die wolke en my voete oor die aarde aan’t swewe tussen die bondel skoentjies by die voordeur die verkeerde geskoeiseltjies aan geflop. Hier loop ek allerseksie met my ou koekkruipers deur Pung Nap Don en dog die mense kyk vir die seksie sandaaltjies. Dis soos om met jou slippers by die kerk ingestap te kom en te dink jy het jou Italiaanse ontwerpersnommertjies aan.

Natuurlik is ek toe heel dankbaar dat ‘n paar miljoen Koreane smaakloos deur die lewe gaan, want as enigiemand agtergekom het dat dié my ou huispantoffeltjies is wat ek hier op straat aan het, laat hulle nie blik of bloos daarvan agterkom nie.

Nou moet ek byvoeg dat die tog terug huis toe heelwat platter op die aarde was.

Dit is maar moeilik om jou agterlyf seksie te swaai as jy weet jou geskoeisels skreeu: nerd! kosie! en kommin!

Vandag stap ek by die voordeur van die werk uit en ‘n man met ‘n olyfgroen t-hemp en ongelabelde olyfgroen sweetpakbroek slof-slof die pad af. Hy is so konserwatieflykend as kan kom, met kortgeknipte hare en niks wat hom eksentriek of vreemdsoortig daarna laat uitsien nie. Dis toe ek afkyk na sy voetgoed dat ek besef hy het ‘n paar hoëhak dames insteekskoene aan met diamantégespes teen die kante met die skoene wat omtrent drie nommers vir hom te klein is.

Soos een van die lelike suster loop hy houtgerus die pad af na wie weet waar en niemand bloos g’n blik of spraak g’n stilettosprook nie.

Ek is die enigste een wat oopmond aangaap en hom ‘n paar tree agtervolg om die gedoente uit te werk. Al wat ek kan dink, was dat hy óf ook nie afgekyk het toe hy in die bondel skoen aangeglip het nie, óf dat hy kaalvoet en guitig by sy mini-voetige vriendin gaan kuier het en dat sy hom gou gestuur het om sykouse vir haar werkuitrusting by die winkel om die hoek te gaan koop en dat hy toe haar skoentjies moes aanglip, sodat hy nie vuilvoet die kouse sou aanpas vir ingeval die lus hom oorweldig nie. Of dalk het hy ‘n skoenfetish, of miskien dra hy maar net gewoon hoëhakskoene met diamantégespes. Of dalk is te klein insteek hoëhakskoene met diamantégespes die nuwe millennium se ingevoerde Spaans-Italiaanse geskoeisels soos swart die nuwe millennium se grys?

Ek tik van wysvinger tot wysvinger by die pc, met my seksie skoentjies onder die tafel uitgeskop. Of sal ek liewer sê: sover ek weet was dit die seksie skoentjies waarmee ek laas die huis verlaat het, maar om nou die volle waarheid te vertel, laas toe ek die seksie skoentjies gesien het, het Sok Jin gevra of hy dit nie kan leen nie.

Miskien het ek net op my sokkies by die internetkafee kom tik? Laat ek net gou hier onder my op die vloer rondvroetel. As ek nie die seksie skoentjies kry nie, weet ‘n mens nooit watter ander opwindende dinge ek kan optel nie.

Ek mag dalk ook net met ‘n paar nommers te klein slip on’s met diamantégespes terugtrippel huis toe.

Met liefde

Van Pung Nap Dong. Seoul – Korea tot Kaapstad, Paarl, Vredendal, Lutzville, Koekenaap – Suid-Afrika.

J

Sunday, 09 November 2008

BRIEF SES: LAAT DIE KINDERTJIES NA MY TOE KOM

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 10 March 2001

Kindertjies, die wêreld oor, lyk dit my, het dieselfde behoeftes: hulle wil vir hul uniekheid erken word en voel geborge met ‘n sagte, dog ferme hand wat aan hulle ‘n veilige raamwerk skep waarbinne hul kan groei en bevry en ‘n vaste aardse bodem kan voel.

Siende my sterk punt die kreatiewe is, teken ons ‘n erge hoeveelheid op ingels vir die eerste week of twee. Dis gesigte en lywe en bene en arms en die kleure van die reënboog en nog meer gesigte en lywe en arms.

En ook soos oral oor die wêreld kry jy die groepie mannetjies wat die hele lyf in al sy anatomiese dele wil teken. Freud sit in sy skik en kyk hoe krap die Koreaanse moeders se bottermondskatjies bodele en onderdele op hulle prentjie van die ly waar hulle veronderstel is om hare by te teken. Dan sensor ons dit maar vir op die tafel in plaas van met Suid-Afrikaanse wondergom vir op die muur.

Sulke tye is ek maar bly dat al ons klasse glasmure het sodat almal wat verbyloop kan sien waarmee jy besig is, want die posisie van ‘n kinderopvoeder is altyd broos.

Partymaal is die glasmuur te dik vir ‘n daalder. Veral aan die begin, waar mens pynlik oor en oor jou elke stap bevraagteken en heroorweeg en oor en weer wil seker maak dat jy wel jou miljoen plus won aan die einde van die maand waardig is. Want meneer die direkteur loop soms op en af in die gange en dan loer hy kopknikkend by die glasmure in. Hoewel hy dit baie mooi en ordentlik doen, werk dit tog partymaal aan die begin op my senuwees.

Dan kyk juffrou Ham van oorkant oor die pad ook nog deur haar venster of jy net so presies en deeglik en aanmekaar onophoudelik soos sy werk. Ek voel later soos deel van ‘n sielkundige eksperiment, net, die vensters is tweerigting en ek weet van elkeen se dophoudende beweging. Dan die vader dat ek drama studeer het en die performer in my goed op die voorgrond is. Kort voor lank verbeel ek my net ek is op die verhoog en perform lat die stof so staan. As ek die dag broos van siel en verstand voel, draai ek my rug en werk in ignorering van die muur met die venster met die allerewig inkykende oog. Eendag kry ek dalk net lus en plak vir hom toe.

In ‘n land waar almal om jou se hare en oë swart is, druk jy jou individualiteit uit deur jou hare rooi te kleur. So het ‘n hele paar van my meer karaktervolle peutertjies dan suke geel/bruin trendie flertsies hare hier voor by hulle kuiwe ingesny en gekleur. Die heel kleintjie dra uniforms, maar die groteres en die tieners kom in hul eie keuse van klere skool toe. Ek het ‘n sewejarige rinses in my een klas wat met balletroknommers en pien en bruin (son)strepe in haar haartjies klas toe kom. Sy is porseleinpoppie fyn, maar ou boeta, maak sy haar mondjie oop, klink sy soos ‘n gremlin. Sy het so ‘n konker, krakerige stemmetjie wat haar soos ‘n geharde ou roker die dele van die kop en lyf sonder ‘n knipoog foutloos laat resiteer.

Een jong dametjie van ook so by die sewe, is die dogtertjie van ‘n haarkapper in die ware melodramatiese oorgeaksentueerde, na liggaam en uitdrukking en stem, sin van die idee wat ons soms van haarkappers het. Sy kom op sulke kort beentjies die kamer vinnig met designerskoentjies binnegetrippe. Dan trek sy ‘n diep emosioneelverwonde gesig, gooi haar lyf op die lessenaar neer, swaai haar handjies oor haar Engelse boek en dui aan dat sy nie vandag krag het vir die woordeskat van apple book cat donkey elephant nie.

Ná ek my Afrikanervoet pertinent met haar neergesit het, swaai sy haar koubomblou ontwerpershandsak aan die einde van die les van kop tot knie, terwyl sy die kamer op haar designerskoenetjies uittrippel, aan die lament oor die nuwe Engelse meneer sonder ‘n breek van die moordende roetine van woordeskat: abble, b-oo-k, cad, donkie, ele-faant.

Hoewel ek nie my lus kon inhou om onmiddellik vir Sophie van Yong Min en die skreeumara te vertel nie, skryf ek die ervarinkie met die inbreek van die effens gesette ou dogtertjie graag weer. Dit was so ‘n opwindende avontuur. Veral op my bo-arm spiere.

Een môre kom my slimmer groepie heel niksvermoedend en vrolik good morning good morning and how are you die klas binnegetrippel. In die oorkantste klas sit ‘n bleek, maer moeder by Ham Teacher met so ‘n gesette dogtertjie met ‘n effense snorretjie bo die bo-lip van om en by die ses. Ek vermoed weens onomgesoomde rokspante sluit sy nou eers vir die eerste keer by die skool aan. Haar ogies staan stokstyf in haar kop en dit is duidelik dat sy dink die hele skoolervaring is ‘n wrede ondier wat haar gaan verskeur, opslurp, fynkou en glad en glibberig gaan afsluk. Ham Teacher en bleekmaer moeder het nie die vaagste benul hoe om haar die eerste tree oor die pad in my klas te laat gee nie.

Vroeg het ek nou al hier geleer: as daar ‘n wrede ondier vir jou om donker hoeke loer, kyk hom terug in die bek, loop reguit in sy warm blasende asem in, gryp hom voor die bors en worstel met hom tot hy soos ‘n mak ou lammetjie uit jou hand eet. Hiermee verwys ek natuurlik na van die bloedjies wat soms hardverskeurend aan die huil of lawaai of aan die pie gaan (shie-shie – ek dink die Afrikaanse ekwivalent is wie-wie). In plaas van om my mooi nuwe dasse van moontlike kwyl of snot en trane te probeer beskerm, gryp ek die ou gediertetjie by die lyf en ons polkadraai of bekyk die a, b, c, of gaan dan shie.

Juffrou Yong Min is egter ‘n wilde perdjie van ‘n ander kleur. Oom Kosie sou haar ‘n klein (Koreaanse) merrie genoem het.

Braaf stap ek tot by haar ongelowige moeder, neem haar aan die hand en nooi haar soetliefie my klas binne. Dit is toe net daar waar sy in ‘n spasma gaan wat enige sangoma groen sou laat word van pure kompeterende jaloesie.

Volgende stap is dan in die oog van die bek van die dier. Ek omarm haat met my hele lyf en ons dra haar die klas binne. Al my instinkte is nou oop en ek hulle goed aan die vertrou. Yong Min skop en kry spasmaas en dan lament sy: oma! O maaaa! O mm mmm maaaa! (oma – moeder/ma). Haar oorgepaaide kossies-vir-die-gevaar-van-‘n-moontlike-tantrum stewige lyfie begin op my bo-arms werk – maar ek hou. Die res van die kindergemeenskap gaap oopmond aan. Waarvoor die angsaanval? Wonder hulle. Vir ‘n bietjie ou Engels op jou vroegmôre maag eenmaal ‘n oggend?

Maar Yong Min sien moederlose spoke en skop beentjies en kry aanvalle en oma! oma! oma! Van my gesofistikeerde ontwikkelde jong damepeutertjies kom praat trooswoordjies en woorde van berusting in haar oor. Maar dit maak haar nog net meer troosteloos.

Bleekmaer moeder, wat lyk asof sy permanent ondervod en aan yster tekort is vir al die Yong Min trantrums en kossies voerdery wat sy moet hanteer, kom op ‘n stadium die klas halfhartig ingestorm om Yong Min te kom oorvan en uit! sê ek: uit! Vir Yong Min laat ek vandag net gaan as sy ten volle geïntegreer en groepsgelukig deel word van die breëre samelewing – al kos dit nou ook my arms.

Oor die volgende vyf minute gebeur die volgende meer as vyf dinge gelyktydig: Yong Min kry spasma na spasma. Ek loop met haar van arm na heup – of sal ek liewer sê: ek sleep met haar van arm na heup en op ‘n stadium gaan daar hierdie ping! deur my kop: Yong Min = vet. Moeder paai met kos. Johannes = diabetes. Bar One van Suid-Afrika in sak.

Ek sleep vir spastiese Yong Min tot by my sak, ruk so ‘n platgedrukte maandoue Bar One vir moontlike lae suikeraanvalle wat nooit gebeur nie uit die diepste intieme private binnedele van my sak, skeur dit met dié deel van my regterhand wat nie alreeds heeltemal dood onder mejuffrou Yong Min se gewig is nie, oop, en skielik soos die tantrum gekom het, stop dit vir ‘n helder wonderskone sekonde. Yong Min sê haar eerste Engelse woord: chocolate?

Yes! Yes! Chocolate, beaam ek en die lyflike juffrou Yong Min maak haar mond oop.

Ons kou vir ‘n salige halwe minuut sjokolade toe een van my kleinste, fynste dametjies na my tafel toe aangestorm kom. Shie-shie, dui sy met benoude ogies aan. Nou maar waarvoor wag jy? Gaan! beduie ek. Af met die pad hardloop sy toilet toe met die helfte van die klas agter haar aan.

Die volgende oomblik is sy sonder onderkleredingetjies terug in die klas na haar onderlyf aan’t beduie. Blindederm, dink ek. Sy sê ‘n woord waat my aan onse eie Afrikanerkleutertjies se nommer twee laat dink, maar net om seker te maak, storm ek by Pieter no. 1 in die klas langsaan in, Yong Min vol Bar One gereed met meer energie vir tantrum nommer twee, met broeklose kleintjie blykbaar bloot in nood vir nommer twee en vir hulp met die alledaagse, maar op vyf, gewigtige, saak van ‘n meer komplekse shie. Gelukkig laat die hele konsternasie juffrou Yong Min vir ‘n wyle van haar spoke en duiwels vergeet en skielik besef sy ook sy het na al die oggend performance ‘n nood.

Weer eens af met die gangetjie tot by die dames en af met die onderkleertjies en John Teacher maak maar asof hy elke dag vyfjaaroue meisiestjies toilet dril en toe met die knopies en uiteindelik lui die klok.

Ek vind intussen uit dat mejuffrou Yong Min nie net ‘n bobaas tantrumgooier is nie. Sy ken ook haar Engels. In ‘n stiller moment vra ek van die dele van die lyf en sy weet van face en hair en eyes en ears alles op hul regte plekke.

Met die res van die kinderskaar in ‘n ry, loop ons die trap op tot by die oranje klassie se juffrou. Yong Min, kan ek met trots aankondig, dames en here, loop nou langs my, hand-aan-hand. By haar klassie dui die juffrou op Koreaans aan dat sy vir John Teacher moet bedank. Ek kry ‘n drukkie en met ‘n laaste snik-snikkie neem ek en Yong Min afskeid.

Die aand in my kookwaterbed wonder ek of Yong Min se moeder haar die volgnde dag terug skool toe sal stuur? Miskien dink sy die wit Afrikaner van Suid-Afrika sal die kind se dood beteken.

Die volgende oggend kom ‘n blosende erg selfversekerde Yong Min met pienk rokkie en pienk bobbels in die hare saam met die res van haar maatjies die klas binne.

Sy is nou een van my prima leerlinge. Ons, sal ek maar sê, het gebond.

Net onder ons, om die waarheid te sê, sy is besig om ‘n regte juffrou te word. Hol aanmekaar na John Teacher toe met een of ander klikstorie. Maar by gebrek aan konstante Bar One’s het ‘n mens seker maar vele vorme van sekuriteit-vir-jouself skep nodig.

O, en as een van julle dak by ‘n Bar One fabriek in Suid-Afrika verbyloop, hardloop tog gou in en sê vir hulle, hulle het my lewe en beslis my bo-arms van ‘n gewisse mejuffrou Yong Min dood gered.

Liefde
John Teacher

Friday, 17 October 2008

BRIEF VYF

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject: Laat die kindertjies na my toe kom
Date sent: 4 February 2001

En die eerste dag is soos ‘n see van kindertjies vanaf kwart oor tien soggens tot aguur saans. En of ek nou weet of ek in die Koreaanse kinderskaarwater kan swem, spring John Teacher in die diep kant in en ek trap-trap en hoes en proes en kort voor lank is daar geen vaste grond in sig nie.

Die sesjarige kom in ‘n klossie dosyn die kamertjie binnegehardloop. Hulle beloer en bekyk en giggel agter bak handjies. Kort voor lank word die hare op my arms die hoofaantrekkingspunt van Koreaanse peuterbespreking. So ook die kleur van my oë en elke kolletjie op my vel en elke nuanse en skakering van my hare.

Met ootmoedige bewondering beduie hulle na my hare, kyk diep in die oë en met ‘n vingertjie wat om weerspreking vra, sê hulle: golden. Your hair – it’s golden.

Na twee vyftigminuut klasse in die oggend van EYES, that’s right – it’s EYES en THAT’S YOUR FACE. OLGOOL – FACE en hope snotneusies afvee en ‘n paar honder maal gil: SIT DOWN! FACE! QUIET! BE QUIET! OLGOOL – FACE! FACE! breek my stem en ‘n laatoggend lunchtyd min of meer saam aan.

Ek en menere Pieter en Pieter en Sok Jin skop ons skoentjies voor die geel saal van die kleintjies wat as die yellow class bekend staan uit, trippe oor die warm vloer tot in die hoek by die deur van die klein kombuisie/middagete-eetplek. Om ‘n miniatuur langwerpige kombuistafel sit ek en die Pieters en Sok Jin en wag op die twee kombuisdames om ons te bedien.

Hulle arriveer met warm sagte lywe en warmer glimlagte met piepklein silwer bakkies klewerige wit rys (bap) en plaas ‘n bakkie voor elkeen van ons neer terwyl Sok Jin ‘n silwer lepe en twee silwer chop sticks stokkies voor ons neersit. Die res van die tafel is bedek met blou plastiese houertjies vol suur gespyseryde kooltjies en spruite (kimchi), gemarineerde spinasie, ‘n bakkie met versoet/versuurde raap, klein blokkies gedroogde seegras en dan gewoonlik ‘n vleisdingetjie soos gedroogde vissies in nog meer versuurde groete. Almal help saam uit die kommuniële bakkies groente met die stokkies. Net oor die bakkies rys kry jy alleenreg. Partymaal is daar ‘n stomende pot seegrassop (mee jok gook) op die stoof aan die prut en word dit saam met die rys en die warm lywe en glimlagte in piepklein bakkies bedien. Twee van my verhemelte/palet hoogtepunte tot dusver was aartappelsop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies.

Tussendeur drink ons boontjiewater (kawng mool) en hoe kan ek vergeet van my gunsteling der gunstelingproeseltjies, selfs toe ek nog in Suid-Afrika geleef het: toobo – tofu in klein warm blokkies gebraai en met sojasous bedek.

Die twee kombuisdames vermoed dat ek ondervoed is. Aan die begin beduie ek verwoed: gaw gee, tak gaw gee, seng son – a nee yo!! Vleis, hoender, vis – nee! Die dames kry ‘n beteuterde trek op hul gesigte, asof ek hul persoonlik teleurgestel en ‘n intieme moment met hul geweier het. Hoe meer ek beduie dat daar meer as genoeg is om die liggaam aan mekaar te hou om die uitdagings van die siel te bowe te kom, hoe meer kry hulle hierdie trek op hul gesigte: vir jou sal ons nog vet voer, mannetjie!

As ek aan die begin, geselshonger, voor die rekenaar sit, en vinnig my e-mail pitkossies oor die hele wêreld binne die eerste tien minute van middagete op datum probeer kry, kom soek die een kombuistannie my. Jy moet kom eet, sê sy op Koreaans. Daar’s seegrassop. Jou gunsteling.

As ek dan net gou die komma en punt van my geskrywe probeer klaar maak, stuur sy vir Sok Jin om my te kom roep. Mmm, lekker warm seegrassop, nes moeder se boontjiewintersoppe destyds op Vredendal toe ek ‘n jong, honger na siel en verstand en gees, groeiende jong man was.
Ek probeer ekstra lekker geluide na die twee warm glimlaggende dames se kant toe maak terwyl ek die seegrassies glad en sout by my keel voel afgly. Ek sê driemaal: kam sa hamneeda (dankie) en knik my kop amper uit ‘n lit van my nek af om aan te dui hoe dankbaar ek vir al die warm sout/soet Koreaanse versterkings is, want kort voor lank keer ek terug na die klein klaskamertjie op die vyfde vloer en soos die kindertjies na my toe kom, is ek tog heimlik dankbaar vir die kombuisdames se indringende en energiegewende Koreaanse disse der eeue wat my nou gepanterser teen die koue en met hernude ywer effens sagter laat sê: face – olgool. Face. Sit down!

Monday, 13 October 2008

Brief Vier

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 9 March 2001

Bemindes

Gisteroggend word ek wakker en dink ek bly nog in Pung Nap Tong, maar ek het nou al geleer om tussen die Engels en Koreaans deur twee maal te vra en voor die oog van die vertaler te skryf en te onderstreep en al die gevaartekens te probeer uitkanaliseer.

So beteken “ge” byvoorbeeld sesamsade, terwyl “ke” hond beteken. Julle kan julle dus die konsternasie voorstel as my lus vir sesamsade oor my kos in ‘n restaurant die oorhand kry en ek nie die “k” genoeg “k” nie en ‘n fietse stywe en goedgemarineerde hondjie bo-op my rys, in plaas van sesamsade, kry. Want, ja, die gerug is wel waar. Hond word nog steeds in sommige Koreaanse restaurante as ‘n lekkerny bedien.

Maar om terug te keer tot die verwarrende wakkerwordery in Pung Nap Tong. Gisteraand fluister een van my engele vr my net vir ingeval jy hopeloos verdwaal of vir iemand wil aanraai om vir jou te kom kuier vra net weer vir Sok Jin waar ons nou regtig bly.

Wel, geliefdes. Dit is Pung Nap Dong. En tot môre-oggend sal dit so bly. Hou egter ‘n spasie in jul adresboeke oop vir ingeval dit miskien na Pun Njap Kon of Pun Jap Bong of iets in dier voege gaan verander.

Bogenoemde is maar net nog ‘n klassieke voorbeeld van hoe die multitalige gekommunikeerdery daarna uitsien. Die Koreane dink en praat Koreaans. Ek dink Engels en praat gebroke Koreaans en teksboek Engels en as my moer nou so af en toe suur word, uiter ek ‘n ding of twee in Afrikaans waarvoor niemand my dan sal kan dagvaar nie.

(Vir dié van julle wat van nodelose feite hou: dong, soos in die huidige Pung Nap Dong, beteken “area”. Ek neem aan dis nou dieselfde ding soos in ons townships se “zone” of ons toentertydse lokasie. Ek bly dus in Pung Nap Zone/lokasie/dong van die moederstad, Seoul, in die landsuide van Korea.)

Môre is my eerste maand volbring in Seoul. Ek voel asof ek al ‘n leeftyd hier woon en werk. Ek voel gewoonlik so oor dinge wat my hart verbly en verwarm. Wat ek werklik van die ervaring geniet, is dat my brein konstant met nuwe inligting gestimuleer word. Die taal, die kos, die kultuur, die stad en sy struktuur.

Daagliks word daar in die Engelse koerant iets spesiaals vir die foreigners geadverteer om te doen of te bestudeer of te ervaar. En baie daarvan is gratis. Dit gaan ook oor kulturele mededeelsaamheid en nie net oor die land se ekonomie verstewig nie. So jy kan tradisionele instrumente leer speel, Koreaanse volkspele leer, leer kook in Koreaans (gespeseryde kole en spinasies en spruite en ander vreemde groenteykende dinge en ‘n kaasagtige produk gemaak uit sojabone en bonewater en seegrassop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies). En jy kan Koreaans gratis leer praat en kalligrafie leer en mediteer saam met die Buddhistiese monnike en potte bak en die moontlikhede is legio. Natuurlik wil ek dit alles en nog meer doen.

Ek sal maar by die mediteer begin sodat ek vinnig astraal kan transfigureer, want die afstande is soos van die Kaap tot in die Paarl tot by Clanwilliam se dam tot in Vredendal verby Lutzville.

Trots op myself het ek die eerste dag werk toe reeds ‘n bus op my eie tussen die paar miljoen Koreane deur geneem. Alles lyk aan die begin eenders. Ek kan niks lees of hoor of beluister of verstaan nie. Dit is nogal op ‘n sekere vlak besonder bevrydend, want jy weet niks van niemand se krisis of as een jou oor jou geel hare en jou meroen das en blou hemp en groen onderbaadjie onder die bolip sou bespreek nie.

Die aand wys my een kollega vir my waar die busstoppie is en of ek die pad huis toe alleen sal kan aanpak? Ja wat, sê ek, ek het dan nou vanoggend so mooi op eie stoom hier aangekom.

Maar, broeders en susters. In die nag lyk baie Koreane en Koreaanse geboue en naamlose strate wel heelwat anders. Ek klim by daardie ou busstoppie vlak voor my huis af en ek het nie die vaagste benul waar ek is nie.

Ek loop op en ek loop af.

Ek loop om die gebou waar ek seker is ek regs moet draai en dan is daar net ‘n muur en nie eers ‘n links om van ‘n regs te onderskei nie. Dan loop ek weer op en ek loop weer af en nog affer, om weer op en om die gebou te probeer loop. Dit is my eerste Koreaanse wintersnag tot laat in die koue buite. My lippe is later so uitgedroog en styf getrek, dit vorm een plat vlak met my tandvleise en die agterkant van my tong en keel. My bene het lankal enige gevoelswaarde verloor. My vingers is stokstyf en kliphard. Sou ek nou ‘n suikerkrisis ontwikkel, is daar nie ‘n druppeltjie bloed om uit hulle te forseer nie.

Vir dié wat dink dat ek as kind dalk te veel “Oom Kaspaas” in die Landbouweekblad tydens plastogkuiers op die Kliprand gellees het en nou aan ‘n oordrewe sin van oordrewendheid ly – glo my vry: ek verdwaal vir ‘n goeie drie ure en net voor een van my vingers klonk! voor my afbreek en in ‘n Koreaanse riool die stad afspoel, beloof ek my siel aan die Here as ek net nou onmiddellik ‘n oplossing vir die op- en afgelopery sonder ‘n links van ‘n regs te onderskei kan vind.

Nou moet ek nogal bieg. Klap ek my geestelike vinger in die laaste tyd, is my beskermengele op hulle poste. Die Here bederf my deur en deur. En nee, Pa, hoewel die kind nie rigtingbedonnerd is nie, dink ek ek moes die verdwaalervaring die eerste aand gehad het net om uit te vind hoe bewaar en beskermd ek werklik is.

Want waar ek ookal bel met my nuwe koorloos gekonnekteerde internetselfoon, antwoord niemand nie en die padkaartjie/blaadjie/flentertjie papier wat ek op my het om aan te dui hoe om na my kookwaterpotbed toe aangekruip te kom wat Sok Jin spesiaal vir my geteken het, is net so twee strepe wat sê: Saka Bakkery, op met dié straat in, toe nog: Pung Nap Dong, en al die pad tot by Kodak, en dan links en die tweede straat links. Ek verstaan daar niks meer van nie, want ek op en af voor Saka, maar daar is nóg Pung Nap Dong, nóg links, nóg regs.

Net voor ek die Johannes neurotiese bobbejaan agter die bevrore Koreaanse bult wil gaan haal en sien hoe ek soos Racheletjie de Beer die volgende oggend sonder die heldedaad van ‘n boetie wat ek met my dun verleefde jassie van die dood beskerm het, verkluim voor die Saka Bakkery wakker word, dink ek: bid. En ek sê net: Here, dankie dat jy nou een van my engele in ‘n Koreaanse mens laat verander en tussen die miljoene deur wat nie kan Engels praat nie hom na my toe stuur en sonder kaart of links of regs of enige idee waar dit ding of dong hom my laat verstaan en my nou onmiddllik uit hierdi koue na my kookwaterbed toe vat.

Ek loop toe hierdie Saka-winkel binne en beduie en wys flentertjie papier en so ‘n korrekte Koreaanse mannetjie skop sy skoentjies in sy winkel aan, neem my papiertjie uit my hand en loop en loop en loop saam met my deur die miljoene.

Kinderlik vol vertroue loop ek agterna.

Dan draai hy die papiertjie so en dan draai hy die papiertjie sus.

En ons loop en loop.

Tussen ons is daar ‘n woordlose gebondenheid wat die bekende klanke van sinne van bekende woorde van gemeenplasige tale te bowe gaan.

Ons loop en loop.

En skielik staan ons voor Saka met ‘n links en ‘n regs, met ‘n regs indraai in Pung Nap Dong. Dis tóé dat ek besef dat ek voor Saka Koffiewinkel en nie Saka Bakkery afgeklim het nie. Hoe moes ek nou ook weet daar’s ‘n Saka in elke dong?

Maar wat ek wel wis, is dat dit so moes wees. Dat ek nou weet ek is nooit alleen nie.

Ek wonder of ek my beskermengel om die hals mag val. Met ‘n kopknik verdwyn hy in die donkerverligte strate.

En ek stap met ‘n huppel in my hart Pung Nap Dong binne en ek weet: ek is by die huis en wil nêrens anders bly nie.

Nog nooit was ‘n kookwaterbed so warm en so mooi soos op my eerste nag, net voor middernag van die werk af, toe ek onder my Koreaanse lap, met my heup op die vloer, vas en vaster die slaap van nuutgevonde warmte en her- en weer ontdekte geloof en beskerming en onvoorwaardelike bewaring slaap nie.

Thursday, 09 October 2008

Brief Drie

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 9 March 2001

Bemindes

Gisteroggend word ek wakker en dink ek bly nog in Pung Nap Tong, maar ek het nou al geleer om tussen die Engels en Koreaans deur twee maal te vra en voor die oog van die vertaler te skryf en te onderstreep en al die gevaartekens te probeer uitkanaliseer.

So beteken “ge” byvoorbeeld sesamsade, terwyl “ke” hond beteken. Julle kan julle dus die konsternasie voorstel as my lus vir sesamsade oor my kos in ‘n restaurant die oorhand kry en ek nie die “k” genoeg “k” nie en ‘n fietse stywe en goedgemarineerde hondjie bo-op my rys, in plaas van sesamsade, kry. Want, ja, die gerug is wel waar. Hond word nog steeds in sommige Koreaanse restaurante as ‘n lekkerny bedien.

Maar om terug te keer tot die verwarrende wakkerwordery in Pung Nap Tong. Gisteraand fluister een van my engele vr my net vir ingeval jy hopeloos verdwaal of vir iemand wil aanraai om vir jou te kom kuier vra net weer vir Sok Jin waar ons nou regtig bly.

Wel, geliefdes. Dit is Pung Nap Dong. En tot môre-oggend sal dit so bly. Hou egter ‘n spasie in jul adresboeke oop vir ingeval dit miskien na Pun Njap Kon of Pun Jap Bong of iets in dier voege gaan verander.

Bogenoemde is maar net nog ‘n klassieke voorbeeld van hoe die multitalige gekommunikeerdery daarna uitsien. Die Koreane dink en praat Koreaans. Ek dink Engels en praat gebroke Koreaans en teksboek Engels en as my moer nou so af en toe suur word, uiter ek ‘n ding of twee in Afrikaans waarvoor niemand my dan sal kan dagvaar nie.

(Vir dié van julle wat van nodelose feite hou: dong, soos in die huidige Pung Nap Dong, beteken “area”. Ek neem aan dis nou dieselfde ding soos in ons townships se “zone” of ons toentertydse lokasie. Ek bly dus in Pung Nap Zone/lokasie/dong van die moederstad, Seoul, in die landsuide van Korea.)

Môre is my eerste maand volbring in Seoul. Ek voel asof ek al ‘n leeftyd hier woon en werk. Ek voel gewoonlik so oor dinge wat my hart verbly en verwarm. Wat ek werklik van die ervaring geniet, is dat my brein konstant met nuwe inligting gestimuleer word. Die taal, die kos, die kultuur, die stad en sy struktuur.

Daagliks word daar in die Engelse koerant iets spesiaals vir die foreigners geadverteer om te doen of te bestudeer of te ervaar. En baie daarvan is gratis. Dit gaan ook oor kulturele mededeelsaamheid en nie net oor die land se ekonomie verstewig nie. So jy kan tradisionele instrumente leer speel, Koreaanse volkspele leer, leer kook in Koreaans (gespeseryde kole en spinasies en spruite en ander vreemde groenteykende dinge en ‘n kaasagtige produk gemaak uit sojabone en bonewater en seegrassop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies). En jy kan Koreaans gratis leer praat en kalligrafie leer en mediteer saam met die Buddhistiese monnike en potte bak en die moontlikhede is legio. Natuurlik wil ek dit alles en nog meer doen.

Ek sal maar by die mediteer begin sodat ek vinnig astraal kan transfigureer, want die afstande is soos van die Kaap tot in die Paarl tot by Clanwilliam se dam tot in Vredendal verby Lutzville.

Trots op myself het ek die eerste dag werk toe reeds ‘n bus op my eie tussen die paar miljoen Koreane deur geneem. Alles lyk aan die begin eenders. Ek kan niks lees of hoor of beluister of verstaan nie. Dit is nogal op ‘n sekere vlak besonder bevrydend, want jy weet niks van niemand se krisis of as een jou oor jou geel hare en jou meroen das en blou hemp en groen onderbaadjie onder die bolip sou bespreek nie.

Die aand wys my een kollega vir my waar die busstoppie is en of ek die pad huis toe alleen sal kan aanpak? Ja wat, sê ek, ek het dan nou vanoggend so mooi op eie stoom hier aangekom.

Maar, broeders en susters. In die nag lyk baie Koreane en Koreaanse geboue en naamlose strate wel heelwat anders. Ek klim by daardie ou busstoppie vlak voor my huis af en ek het nie die vaagste benul waar ek is nie.

Ek loop op en ek loop af.

Ek loop om die gebou waar ek seker is ek regs moet draai en dan is daar net ‘n muur en nie eers ‘n links om van ‘n regs te onderskei nie. Dan loop ek weer op en ek loop weer af en nog affer, om weer op en om die gebou te probeer loop. Dit is my eerste Koreaanse wintersnag tot laat in die koue buite. My lippe is later so uitgedroog en styf getrek, dit vorm een plat vlak met my tandvleise en die agterkant van my tong en keel. My bene het lankal enige gevoelswaarde verloor. My vingers is stokstyf en kliphard. Sou ek nou ‘n suikerkrisis ontwikkel, is daar nie ‘n druppeltjie bloed om uit hulle te forseer nie.

Vir dié wat dink dat ek as kind dalk te veel “Oom Kaspaas” in die Landbouweekblad tydens plastogkuiers op die Kliprand gellees het en nou aan ‘n oordrewe sin van oordrewendheid ly – glo my vry: ek verdwaal vir ‘n goeie drie ure en net voor een van my vingers klonk! voor my afbreek en in ‘n Koreaanse riool die stad afspoel, beloof ek my siel aan die Here as ek net nou onmiddellik ‘n oplossing vir die op- en afgelopery sonder ‘n links van ‘n regs te onderskei kan vind.

Nou moet ek nogal bieg. Klap ek my geestelike vinger in die laaste tyd, is my beskermengele op hulle poste. Die Here bederf my deur en deur. En nee, Pa, hoewel die kind nie rigtingbedonnerd is nie, dink ek ek moes die verdwaalervaring die eerste aand gehad het net om uit te vind hoe bewaar en beskermd ek werklik is.

Want waar ek ookal bel met my nuwe koorloos gekonnekteerde internetselfoon, antwoord niemand nie en die padkaartjie/blaadjie/flentertjie papier wat ek op my het om aan te dui hoe om na my kookwaterpotbed toe aangekruip te kom wat Sok Jin spesiaal vir my geteken het, is net so twee strepe wat sê: Saka Bakkery, op met dié straat in, toe nog: Pung Nap Dong, en al die pad tot by Kodak, en dan links en die tweede straat links. Ek verstaan daar niks meer van nie, want ek op en af voor Saka, maar daar is nóg Pung Nap Dong, nóg links, nóg regs.

Net voor ek die Johannes neurotiese bobbejaan agter die bevrore Koreaanse bult wil gaan haal en sien hoe ek soos Racheletjie de Beer die volgende oggend sonder die heldedaad van ‘n boetie wat ek met my dun verleefde jassie van die dood beskerm het, verkluim voor die Saka Bakkery wakker word, dink ek: bid. En ek sê net: Here, dankie dat jy nou een van my engele in ‘n Koreaanse mens laat verander en tussen die miljoene deur wat nie kan Engels praat nie hom na my toe stuur en sonder kaart of links of regs of enige idee waar dit ding of dong hom my laat verstaan en my nou onmiddllik uit hierdi koue na my kookwaterbed toe vat.

Ek loop toe hierdie Saka-winkel binne en beduie en wys flentertjie papier en so ‘n korrekte Koreaanse mannetjie skop sy skoentjies in sy winkel aan, neem my papiertjie uit my hand en loop en loop en loop saam met my deur die miljoene.

Kinderlik vol vertroue loop ek agterna.

Dan draai hy die papiertjie so en dan draai hy die papiertjie sus.

En ons loop en loop.

Tussen ons is daar ‘n woordlose gebondenheid wat die bekende klanke van sinne van bekende woorde van gemeenplasige tale te bowe gaan.

Ons loop en loop.

En skielik staan ons voor Saka met ‘n links en ‘n regs, met ‘n regs indraai in Pung Nap Dong. Dis tóé dat ek besef dat ek voor Saka Koffiewinkel en nie Saka Bakkery afgeklim het nie. Hoe moes ek nou ook weet daar’s ‘n Saka in elke dong?

Maar wat ek wel wis, is dat dit so moes wees. Dat ek nou weet ek is nooit alleen nie.

Ek wonder of ek my beskermengel om die hals mag val. Met ‘n kopknik verdwyn hy in die donkerverligte strate.

En ek stap met ‘n huppel in my hart Pung Nap Dong binne en ek weet: ek is by die huis en wil nêrens anders bly nie.

Nog nooit was ‘n kookwaterbed so warm en so mooi soos op my eerste nag, net voor middernag van die werk af, toe ek onder my Koreaanse lap, met my heup op die vloer, vas en vaster die slaap van nuutgevonde warmte en her- en weer ontdekte geloof en beskerming en onvoorwaardelike bewaring slaap nie.

Wednesday, 08 October 2008

Brief Twee

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 2 March 2001

Liewe vriende en familie van my hart en siel

Ek is nou drie weke in Seoul en dit voel reeds soos ‘n leeftyd.

Ek probeer nog steeds met my e-mail reise op datum kom. Dit lyk darem asof ek in die pylvak is.

Ek tik op die oomblik by ‘n internetkafee om die hoek van waar ek bly vir ‘n skamele 6 rand per uur.

Internet is besonder gewild in Korea, maar so is rook ook en daar is nie allerlei oulike rookwette soos in Suid-Afrika nie.

Ek sit dus omring deur dertig plus Koreaanse jongelinge wat kettingrook en internetspeletjies speel.

Dit is halftwaalf, Sondagaand, en vir dié van julle wat vergeet het om ‘n prettige aprilgekdag te hê: maak dit ‘n simpel en perspienk Maandag en doen alles agterstevoor en twee maal vinniger of stadiger. Doen die stadige goed vinniger en die stadige goed vinniger. Dit sal julle pas – Marida en Sanet?

Buiten vir Leah heg niemand blykbaar veel waarde aan die dag nie. En ek kan julle ook nie meer heeltemal uithelp met oornag trou-aankondigings nie, want ek blyk verby die fase te wees. Slaap gerus, Moeder.

Van slaap gepraat.

Na my kultuurskok roes afslaap, word ek met verkwikte energie wakker en dit is verstommend wat ‘n paar ure se slaap aan die menslike psige kan doen. Hoewel my onmiddellike omstandighede nog steeds rommelings van ‘n paniekaanval by my nekwerwels en ruggraat laat afrol, is ek ten minste op dié stadium in staat om myself tot kalmte te waan.

Buite het my eerste Koreaanse yskoue laatwinterdonkerte op my neergedaal en omring deur veertien plus miljoen oosterse siele het ek nie die vaagste benul waar ek my bevind nie. Sok Jin moes inderhaas iewers heen en hy los vir my ‘n paar honderd won belgeld en hy maak vir my ‘n paar Koreaanse briewe vir ingeval ek wil gaan rondloop en moontlik verdwaal en my kollegas wil bel of gaan opsoek.

Ek weet nie eens waar die voordeur van die agterdeur van ons HUIS te onderskei is nie; laat alleen gaan rondloop en die hele Korea vol op publike telefone lê. Al wat ek op die stadium te eet het, is Provitas en Bar Ones wat ek by die dosyne saam met my gevlieg het vir suikerkrisisse op pad na my toekomstige sielestad, Seoul.

Voor Sok Jin vertrek, mor ek oor toiletpapier en water en letterlike twee sekondes later is hy terug met beide, wat my laat vermoed dat die beskawing nie te ver van my ongekaart en -getransporte huidige huis en haard is nie.

Ek gaan deur ‘n paar Johannes-neuroses van moontlike lae bloedsuikeraanvalle en hoe ek die vreemde donker koue strate op en af hardloop en op Koreaans probeer verduidelik dat ek dringend suiker nodig het voor ‘n diep en lewenslange floute my gaan oorval. Is natuurlik toe weer dat ek van my twee dosyn Bar Ones in my koffer onthou – asook die feit dat ek min of meer drie jaar gelede laas ‘n lae bloedsuikeraanval gehad het.

Op daardie stadium gebeur daar ‘n effens ferm klop aan die deur.

Dit is Pieter en Pieter. Wonder bo wonder het hulle die huis weer gevind, hoewel die omgewing voorheen heeltemal aan hul onbekend was. Hulle staan soos ou familie voor my nuwe huis se deur met gasbrandertjies en botteltjies gas en komberse en kossies en vroedvroustreke uit die boonste rakke.

Pieter die ouere kloek veral oor hoe mooi die kas van ‘n huis gemaak kan word en hoe gerieflik geleë dit is en ai, die vloer is te lekker warm en ons kuier oral oor die warm tapyt en hoe beter ek al klaar na net een drie ure slaapsessie lyk en die warm Koreaanse nessie dreun in sy kosyne, so word daar gekuier.

In komplete Gemini-styl is my eerste behoefte aan ‘n telefoon. Ek wil môre begin rondloop en ondersoek na my buurt instel, maar siende dat die strate nie name het nie en dat ek niks kan lees wat wel op die geboue geskryf staan nie, wil ek ‘n selfoon op my kan dra, vir ingeval ek verdwaal, sodat ek vir Pieter of Pieter kan bel om te beduie of te kom haal. Ons maak ‘n afspraak om die volgende dag te ontmoet om Techno-Mart toe te gaan.

Dit is ‘n tegnologiese shopping mall fantasie van vyftien vloere van tegnologiese wondere van dunbesnaarde vaartbelynder rekenaar-tv-skeppings tot ysblou, skuimpiepienk, draagbare cd-spelers tot ultradun lap tops en duisende derduisende selfone.

Nie lank na die Pieters se teekoppies koud is nie, krup ek onder my monnike kookwatervloerbed in en slaap die slaap van ‘n duisend arbeiders.

Die volgende môre voel ek tien jaar jonger en ‘n paar honderd lae ligter. Johannes die Ontdekker is wawyd op en wakker.

Badtyd word die eerste avontuur in sy aller eenvoud en primitiwiteit vanuit my Westerse oog. Die badkamer is ‘n pypie met ‘n tortkop wat aan die koue en warm kraan gekoppel is. ‘n Versiersuikerpienk skotteltjie en twee dikvet plastiese skoene wat hippo’s genoem word – onnodig om te sê: ook in versiersuikerpienk – maak die res van die badtafereel uit.

Eers word al die kleertjies buite die badkamerkassie uitgeskop, dan word die pienk bakkie met water gevul, die hippo’s aangeskoffel en siedaar: gereed vir bad en ‘n paar minute later vars en skoon en verfris vir dag nommer een op Koreaanse bodem. Ja, want die aardse baddery bring my direk aarde toe. G’n ure se staan onder die stort soos by die Pan Pacific nie. G’n ure se draai in die badkamer tot alles uitgedroog en ongemaklik oorstom en jeuk-gewas is nie.

Ek geniet die eenvoudige vinnige ritueel. My lyf kry net genoeg aandag om wakker en verfris te voel. Ek voel wel so effens soos Gulliver in ‘n land waar dinge ietwat kleiner geword het.

Geheel en al wakker word ek nou manhaftig.

‘n Kooplus en rondloop-aanval kom oor my.

Ek besluit om die ingeboudekashuis meer van ‘n nessie te maak voor Pieter en Pieter opdaag. Nou waar dinge in die donker taamlik vreemd en ver gelyk het, skaam ek my vir my angsneurose die vorige aand, want, my liewe vriende en familie, ek is omring van ‘n paar honderd kafees en groenteverkopers en twee plantwinkels op die hoek en ‘n kombers-en-kussing-en-duvet-winkel en kos en kos en kos en sal ek nog ‘n maal sê: kos – ‘n skamele straat van my af.

Ek koop minerale water en aarbeie en nog vrugte en ‘n allerprettigste pienk plant. Ek hardloop met my fondse huis toe en gaan dekoreer. Ek plak Tafelberg pienk en blou en helder en mistig in die middel van die kombuis. Ek sit poskaarte van die pasontdekte Kuala Lumpur oral rond. Ek strooi robynrooi aarbeie op blou oosterse borde in die slaapkamer. Die pienk plant kry ‘n ereplekkie in die meditasiehoek vir allerhande energieë kanaliseer. Ek begin so effens asemhaal en ontdooi en ontlaai. My lippe dui nog steeds aan dat die weer daarbuite nie mee speletjies te speel is nie. Styf getrek en kurkdroog lek ons elke minuut lippies nat.

Marida se geskenk bruin en swart pakke hang bo Sok Jin se kop ten die muur. Gelukkig gebruik niemand hier klerekaste nie. Alles hang op staanders on in die oopte teen mure en kaste.

Van op die vloer slaap tot klere buite kaste hang tot kossies en water en die eenvoudige manier waarop mense om my leef, begin dinge al hoe bekender voel – asof ek in ‘n vorige lewe in Korea was. Na die aanvanklike kultuurskokmoment is ek nou aan die teenoorgestelde end. Slegs ‘n dag later en ek voel asof ek al reeds ‘n hele aantal jare hier deurleef het.

Amper donkernamiddag later daag Pieter en Pieter by die voordeur op. Ons loop in die koue lug met my stywe lippe wat styf en stywer trek. Ons neem bus so-en-so tot by punt A en stop voor ‘n allemintige gebou met die naam in geel en wit: Techno-Mart.

Op en af in die gebou en verby duisende derduisende selfone en cd-spelers en walkmans en wasmasjiene en lap tops en tv’s en rekenaars en nog cd’s en nog en nog selfone. My kop draai, maar ek maak of ek dit alles gewoond is. Ons loop goedsmoeds na enige selfoonhoek en begin selekteer en fynproe en oor en weer bespiegel en te kiwwel en redekawel om tussen derduisende selfone tot een besluit te kom.

Ek het nog altyd ‘n groot, maar groot, kwessie gehad wanneer dit by vinnige besluitneming en materiële dinge kom. Wat as dié kleur môre mooier is as dié? En wat as dié klank fyner is as dáárdie? En so aan. En so aan. En so aan.

Pieter die ouere staan en bruil hier in my nek en sê: Koop dié een. Dis splinternuut en spotgoedkoop en jy kan nie verkeerd gaan nie.

Die splinternuwe, spotgoedkope selfoon is so ‘n blokkerige silwergrys handgrote nommertjie wat pas as koordlose internet op die mark verskyn het – vir ‘n skamele R120. Ja, Dames en Here. Julle het reg gelees. ‘n R120.

In Korea gebruik van die 25 miljoen volwassenes in Suid-Korea blykbaar 23 miljoen selfone. Dié dat dit so goedkoop is. Dieselfde foon sal in Suid-Afrika min of meer R1200 kos. Nou weet ons.

Vyf minute later is ek gekonnekteer en internetkoordloos vir ‘n skamele R250. My nommer is 018 857 9966 vir ingeval iemand gek genoeg is om my teen R10 ‘n kwart minuut Korea toe te wil bel.

Ek wens ek kon vir jou ‘n selfoon stuur, Leah, maar ek dink hulle werk meestal net plaaslik. Ek het selfs een gesien in die vorm van ‘n doodskis met ‘n kruis op. Vrouens dra meestal perlemoenkleuriges en selfs goues en witroompienkes. Jonger mense het sulke piepklein wollerige hondgjies wat van hulle s’n afhang en die meeste mans dra hulle selfone aan ‘n ontwerperstou om hulle se nekke. Dink net watse fees sindikate met die hele ou spulletjie in Suid-Afrika sou hê.

Van selvloer drie tot vier tot vyf gaan ons by die strykysterrak verby en ek koop vir my so ‘n pers deurskynende nommer.

My materiële siel bevredig, keer ons terug na Johannes en Sok Jin se nessie in die tradisionele Koreaanse buurt van Pung Nap Tong in downtown Seoul.

Liefde:
Jo

Eerste Brief Uit Korea 2 Maart 2001

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 2 March 2001

En die lughawe se deure skuif oop en drie mannetjies wals grootogig met oggendgejaagde energie deur die deure.

Pieter en Pieter en ‘n jongeling Koreaan maak hul verskyning op my sielsverhoog.

Hul beduie en verduidelik van verslaap en oggendkoue en vra uit oor hoe laat aangekom en waar en wanneer en wat. Ons skuld blad in Afrikaans en ek gee my eerste tree op Koreaans bodem. ‘n Uitmergelende koue wat deur murg en been sny, klief deur my gebeendere. Ekskuus tog? Maar julle noem dit vroeglente?

Ek dank die Heer in blye galme dat ek die hartjie van die winter vir ‘n aanpassingsbegin gespaar is, want ek kan letterlik niks roer nie. My lippe is stokstyf en al wat ek dink, is hitte en nee en slaap. Ek gaan in ‘n onmiddellike staat van koudbloedige bloedstollende bloubibberende stilstand/skok.

Ek wil nie dink nie.
Ek wil nie ervaar nie.
Ek wil net slaap.

Ek voel soos ‘n karakter in ‘n stuk vir die teater van die absurde en ek het gekom om aan ‘n kabaret deel te neem. Ons kom by so ‘n geel bus/waentjie/gevaarte aan en laai bagasie en die Koreaanse mannetjie dryf aan die verkeerde kant van die kar aan die verkeerde kant van die pad. Pieter en Pieter skud hul oggendvere reg en gaan oor in vroedvrou-aksie: dit is nou die Poort van Seoul en dit is nou die brug en daar word die wêreldsokker gespeel en hier word die Olimpiese Spele gehou en die jong man agter die stuurwiel is Sok Jin.

Ek probeer my bes on onderhoudend lady Di-like ja, ja te knik, maar ek voel meer die dikdood deel van lady Di as die elegant sjarmant vloeiende deel van onse prinses.

Sjok Gin? Sjok Tjin? Probeer ek die rug van ons Koreaanse bestuurder bestudeer.
En Sok Jin, sê die een Pietertjie, is van nou af jou Huisgenoot. Julle deel van vandag af ‘n tweeslaapkamerhuis in die hartjie van Korea, en ons beloer aangename kennis en ek kan nie eers meer my eie naam onthou nie.

John. My naam is nou John. Kosmies het dit gelukkig dieselfde inhoud van die Here se liefde en genade. So dit is die eerste dag en dit is die eerste nag en John sal dit wees. En ek sien dat dit alles goed is.

Ons ry verby blaarlose grys bome. Iewers bo ons behoort geografies ‘n lug te wees, maar dit is net grys. Ons ry verby ‘n grys dam of ‘n meer of wat hulle ook al die plas water noem. Ons ry verby grys gebou na grys gebou na grys gebou. Kort-kort lyk dit of karre op te nou hoeke in mekaar gaan vasfoeter, maar ons ry.

Uiteindelik stop ons om die hoek van ‘n gebou en ry om ‘n nog nouer hoek.

Ons stop.

Kom ons gaan eet ontbyt, nooi Pieter die ouere.

Ma: hy lyk soos ‘n kombinasie tussen Gielie en meneer Coetzee, my laerskoolhoof. Pieter die ouere het ‘n diep rondrollende priesterstem en hy dink soos hy praat soos hy sien soos hy sê wat in sy kop opkom.

Pieter en Pieter bly bo-op die instituut in ‘n dakgedoentetjie van hulle eie. Daar is ‘n kamer en ‘n hoek en ‘n kas agter ‘n deur. Die kamer is die kamer. Die hoek is die kombuis en die kas agter die toe deur is die badskamer.

Iets wat my nog ‘n goeie hele ruk gaan neem om gewoond aan te raak, is gebrek aan ruimte. Nie soseer wanneer jy saam met ‘n paar miljoen mense in die strate rondstap nie. Maar hul behuising is geheel en al anders as in Suid-Afrika. Jy bly letterlik soos reuse in kaste en oor die afgelope drie weke leer ek meer en meer om die grote van my lyf aan te pas en ander koepels en buigings en boë te gee.

Ek sit op Pieter en Pieter se grondbed en al wat ek wil doen, is onder elke liewe kombers of toemaakding van Pieter en Pieter se grondbed lê en my kop toetrek en slaap. Skielik tuimel geen slaap, plastiese vliegkossies eet, nog minder slaap en derduisende myle ver vlieg op my neer. Pieter die ouere wil net gesels, maar al wat ek kan registreer, is koue en stywe lippe. Ek sit soos ‘n trapsoetjie op ‘n klip in die winterse Karoo en alles is bevrore. Ten einde my fasiliteite funksioneel te hou, deel ek Pieter die ouere se kruie en speserye uit wat ek vir hom al die pad van Suid-Afrika aangevlieg het.

Die vliegtuig het die hele ent pad soos ‘n Indiese kerrieplek geruik. Gelukkig dat ek dit nie tussen my klere ingepak het nie. Sou vir lank met die Oriental Plaza verwar geword het.

Na kerries en kruie van die Paarl beruik en bevoel, werk ek my onsubtiel onder hulle se komberse in. Pieter maak kossies en ek wonder of ek ooit weer gevoel in my lippe gaan terugkry. Ek maak so hier en daar ‘n geluid oor vegan-eetgewoontes en weet ten minste dat ek nie boerewors en spek en eiers hoef te vrees nie. Van suiker bly ons liewer nog stroopsoet stil.

Koreaanse kosmomente maak hulle verskyning met broodrolbekende kousels, stukkies piesang en lemoen, met hope granaatrooi glimmende reuse-aarbeie op borde. Pieter bak eiers en vra: een of twee? Ek beduie: geen, maar kry nie lekker my lippe geroer nie. Ek is heuglik bly om ten minste brood op die tafel te herken en gryp sommer ‘n ou snytjie of twee, plak die margarien goed op en amen, ons val weg.

Em... mmmm.. Sluk. Mmm? Die brood is ... s.oe.t. En die margarien is s.oe.t. O gonna, o grietjie, o genade.

Buiten die ruimte-uitdaging, word dit epiese proses nommer twee: waar om sout brood en sout margarien in Korea te vind. Al die brood in die winkels is soet. Die margarien word óf van mielies óf van groente-aftreksels gemaak, maar het hierdie eienaardige soet nasmakie.

Ek voel asof ek in die storie is van die koning wat vir sy dogters gevra het hoe lief hulle hom het. Die valse dogters wat al die koning se skatte wil erf, sê hulle het hom so lief soos diamante en robyne, maar sy eerlike en opregte dogter sê sy het hom so lief soos sout. Woedend verban die koning haar uit sy koninkryk. Skielik droog al die sout in die land op en alles wat die koninklike kokke maak, is soet. Die vleis is soet en die brood is soet en die groente is soet. Die koning is later bereid om sy siel vir sout te verkoop. Skielik besef hy die waarde van sy dogter se liefde en laat haar terug met verering in die binnehowe van sy paleise.

Ek hoef natuurlik nie uit te wys dat ek nie ‘n ou dogtertjie het om in my lewe terug te aanvaar ten einde my brood en botter te versout nie. Maar geld wat stom is, maak wel reg wat soet en krom is en ek sal wel later meer vertel van R20 se brood en R15 se botter en ‘n drie dae lange galaanval later.

Ek staan mooi glim en gaaf en glad van die ontbyttafel af op en krap in my sak op soek na ‘n growwe bruinbrood met piesang en kerriegroente, wat ek drie dae gelede by my suster se huis in die Paarl gemaak het en eet dit soos koningskos op. Dit kon nou maar net sowel oas gebak gewees het.

Ek moet darem ter ere van Koreaanse vrugte sê: die aarbeie is direkte skepsels uit die hemel. Enorme, kraaksuikersoet en robynrooi momente. Ons het nog nooit ‘n aarbei in Suid-Afrika geproe nie. Ek eet ‘n aarbei of twee te veel vir wat my suikervlakke toelaat, maar hier skop en snuif en knik en tik ek darem nog springlewendig voort voor die instituut se rekenaar.

Eerste Koreaanse/Afrikaanse ontbyt voltooi, besluit ons om my by my nuwe huis te gaan aflaai sodat ek kan opwas en vergris en verfraai, uitpak, afstof en met hernude moed en durf en krag en energie my eerste dag van my nuwe lewe in Korea kan aanpak.

Ons ry.

Sok Jin ry soos ‘n ware Jody Scheckter met so ‘n verlengstukstokkie aan die stuurwiel en hy maak polkatiekedraaie om halwe tiekies tussen verkeerdekantste verkeer in en deur sonder om te blik of te bloos. Ons ry ‘n deel binne wat soos ‘n tweede wêreldoorlogse Engeland lyk.

Ek het geen plek of tyd of rigting of bloedsomloop of lip of koue of hitte meer nie.

Ons stop in ‘n straat die helfte van ‘n perdekar, loop om ‘n hoek, trap ‘n paar trappies af, skop ons skoene uit in die voorportaal die grote van een sementblok, loop deur die kombuis die grote van die helfte van ‘n kleinhuisie op die plaas op die Kliprand, tree by ‘n deur verby van een tree by een tree en gaan ‘n kamer binne die helfte van die helfte van die helfte van ‘n gewonde Suid-Afrikaanse kamer. Op die vloer lê twee lappe. Daar is ‘n bruin gladde tapyt op die vloer.

Sok Jin druk knoppies en die vloer word warm.

Die lappies op die vloer is ons beddens. Die vloer verstaan ek is die vloer, maar anders as die vloere waaraan ek gewoond is, is die vloere oor water gebou en die water word elke dag warm gehou en bly ons dus op ‘n groot pot kookwater.

Pieter en Pieter help aflaai en maak kloekgeluide en pak eers uit en was gesig en kam hare en ons kom oor ‘n paar uur weer en dan besluit ons op plan A, B en C. Sok Jin knik en glimlag en trap rond en beduie hy moet ook nou eers verder voort en welkom tuis en wel te ruste.

...

My liewe vriende en familie. Ek het al van die ou woordjie gehoor, maar ek het nooit gedink dat dit werklik is wat die woord sê nie. Die oomblik wat almal die deur agter my toetrek, gaan ek ‘n klassieke goeie ou dosis van kultuurSKOK binne.

Ek kan glad nie funksioneer nie.
Ek kan nie dink of voel of roer of tot enige van my sinne kom nie.
Al wat tot min of meer naby my brein kan registreer, is: slaap.

Ek gooi beide stukkies lap bo-op mekaar. Ek gaan lê op die warm tapyte van ‘n vloer van water. Ek val in ‘n diepe slaap.