Wednesday, 08 October 2008

Eerste Brief Uit Korea 2 Maart 2001

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 2 March 2001

En die lughawe se deure skuif oop en drie mannetjies wals grootogig met oggendgejaagde energie deur die deure.

Pieter en Pieter en ‘n jongeling Koreaan maak hul verskyning op my sielsverhoog.

Hul beduie en verduidelik van verslaap en oggendkoue en vra uit oor hoe laat aangekom en waar en wanneer en wat. Ons skuld blad in Afrikaans en ek gee my eerste tree op Koreaans bodem. ‘n Uitmergelende koue wat deur murg en been sny, klief deur my gebeendere. Ekskuus tog? Maar julle noem dit vroeglente?

Ek dank die Heer in blye galme dat ek die hartjie van die winter vir ‘n aanpassingsbegin gespaar is, want ek kan letterlik niks roer nie. My lippe is stokstyf en al wat ek dink, is hitte en nee en slaap. Ek gaan in ‘n onmiddellike staat van koudbloedige bloedstollende bloubibberende stilstand/skok.

Ek wil nie dink nie.
Ek wil nie ervaar nie.
Ek wil net slaap.

Ek voel soos ‘n karakter in ‘n stuk vir die teater van die absurde en ek het gekom om aan ‘n kabaret deel te neem. Ons kom by so ‘n geel bus/waentjie/gevaarte aan en laai bagasie en die Koreaanse mannetjie dryf aan die verkeerde kant van die kar aan die verkeerde kant van die pad. Pieter en Pieter skud hul oggendvere reg en gaan oor in vroedvrou-aksie: dit is nou die Poort van Seoul en dit is nou die brug en daar word die wêreldsokker gespeel en hier word die Olimpiese Spele gehou en die jong man agter die stuurwiel is Sok Jin.

Ek probeer my bes on onderhoudend lady Di-like ja, ja te knik, maar ek voel meer die dikdood deel van lady Di as die elegant sjarmant vloeiende deel van onse prinses.

Sjok Gin? Sjok Tjin? Probeer ek die rug van ons Koreaanse bestuurder bestudeer.
En Sok Jin, sê die een Pietertjie, is van nou af jou Huisgenoot. Julle deel van vandag af ‘n tweeslaapkamerhuis in die hartjie van Korea, en ons beloer aangename kennis en ek kan nie eers meer my eie naam onthou nie.

John. My naam is nou John. Kosmies het dit gelukkig dieselfde inhoud van die Here se liefde en genade. So dit is die eerste dag en dit is die eerste nag en John sal dit wees. En ek sien dat dit alles goed is.

Ons ry verby blaarlose grys bome. Iewers bo ons behoort geografies ‘n lug te wees, maar dit is net grys. Ons ry verby ‘n grys dam of ‘n meer of wat hulle ook al die plas water noem. Ons ry verby grys gebou na grys gebou na grys gebou. Kort-kort lyk dit of karre op te nou hoeke in mekaar gaan vasfoeter, maar ons ry.

Uiteindelik stop ons om die hoek van ‘n gebou en ry om ‘n nog nouer hoek.

Ons stop.

Kom ons gaan eet ontbyt, nooi Pieter die ouere.

Ma: hy lyk soos ‘n kombinasie tussen Gielie en meneer Coetzee, my laerskoolhoof. Pieter die ouere het ‘n diep rondrollende priesterstem en hy dink soos hy praat soos hy sien soos hy sê wat in sy kop opkom.

Pieter en Pieter bly bo-op die instituut in ‘n dakgedoentetjie van hulle eie. Daar is ‘n kamer en ‘n hoek en ‘n kas agter ‘n deur. Die kamer is die kamer. Die hoek is die kombuis en die kas agter die toe deur is die badskamer.

Iets wat my nog ‘n goeie hele ruk gaan neem om gewoond aan te raak, is gebrek aan ruimte. Nie soseer wanneer jy saam met ‘n paar miljoen mense in die strate rondstap nie. Maar hul behuising is geheel en al anders as in Suid-Afrika. Jy bly letterlik soos reuse in kaste en oor die afgelope drie weke leer ek meer en meer om die grote van my lyf aan te pas en ander koepels en buigings en boë te gee.

Ek sit op Pieter en Pieter se grondbed en al wat ek wil doen, is onder elke liewe kombers of toemaakding van Pieter en Pieter se grondbed lê en my kop toetrek en slaap. Skielik tuimel geen slaap, plastiese vliegkossies eet, nog minder slaap en derduisende myle ver vlieg op my neer. Pieter die ouere wil net gesels, maar al wat ek kan registreer, is koue en stywe lippe. Ek sit soos ‘n trapsoetjie op ‘n klip in die winterse Karoo en alles is bevrore. Ten einde my fasiliteite funksioneel te hou, deel ek Pieter die ouere se kruie en speserye uit wat ek vir hom al die pad van Suid-Afrika aangevlieg het.

Die vliegtuig het die hele ent pad soos ‘n Indiese kerrieplek geruik. Gelukkig dat ek dit nie tussen my klere ingepak het nie. Sou vir lank met die Oriental Plaza verwar geword het.

Na kerries en kruie van die Paarl beruik en bevoel, werk ek my onsubtiel onder hulle se komberse in. Pieter maak kossies en ek wonder of ek ooit weer gevoel in my lippe gaan terugkry. Ek maak so hier en daar ‘n geluid oor vegan-eetgewoontes en weet ten minste dat ek nie boerewors en spek en eiers hoef te vrees nie. Van suiker bly ons liewer nog stroopsoet stil.

Koreaanse kosmomente maak hulle verskyning met broodrolbekende kousels, stukkies piesang en lemoen, met hope granaatrooi glimmende reuse-aarbeie op borde. Pieter bak eiers en vra: een of twee? Ek beduie: geen, maar kry nie lekker my lippe geroer nie. Ek is heuglik bly om ten minste brood op die tafel te herken en gryp sommer ‘n ou snytjie of twee, plak die margarien goed op en amen, ons val weg.

Em... mmmm.. Sluk. Mmm? Die brood is ... s.oe.t. En die margarien is s.oe.t. O gonna, o grietjie, o genade.

Buiten die ruimte-uitdaging, word dit epiese proses nommer twee: waar om sout brood en sout margarien in Korea te vind. Al die brood in die winkels is soet. Die margarien word óf van mielies óf van groente-aftreksels gemaak, maar het hierdie eienaardige soet nasmakie.

Ek voel asof ek in die storie is van die koning wat vir sy dogters gevra het hoe lief hulle hom het. Die valse dogters wat al die koning se skatte wil erf, sê hulle het hom so lief soos diamante en robyne, maar sy eerlike en opregte dogter sê sy het hom so lief soos sout. Woedend verban die koning haar uit sy koninkryk. Skielik droog al die sout in die land op en alles wat die koninklike kokke maak, is soet. Die vleis is soet en die brood is soet en die groente is soet. Die koning is later bereid om sy siel vir sout te verkoop. Skielik besef hy die waarde van sy dogter se liefde en laat haar terug met verering in die binnehowe van sy paleise.

Ek hoef natuurlik nie uit te wys dat ek nie ‘n ou dogtertjie het om in my lewe terug te aanvaar ten einde my brood en botter te versout nie. Maar geld wat stom is, maak wel reg wat soet en krom is en ek sal wel later meer vertel van R20 se brood en R15 se botter en ‘n drie dae lange galaanval later.

Ek staan mooi glim en gaaf en glad van die ontbyttafel af op en krap in my sak op soek na ‘n growwe bruinbrood met piesang en kerriegroente, wat ek drie dae gelede by my suster se huis in die Paarl gemaak het en eet dit soos koningskos op. Dit kon nou maar net sowel oas gebak gewees het.

Ek moet darem ter ere van Koreaanse vrugte sê: die aarbeie is direkte skepsels uit die hemel. Enorme, kraaksuikersoet en robynrooi momente. Ons het nog nooit ‘n aarbei in Suid-Afrika geproe nie. Ek eet ‘n aarbei of twee te veel vir wat my suikervlakke toelaat, maar hier skop en snuif en knik en tik ek darem nog springlewendig voort voor die instituut se rekenaar.

Eerste Koreaanse/Afrikaanse ontbyt voltooi, besluit ons om my by my nuwe huis te gaan aflaai sodat ek kan opwas en vergris en verfraai, uitpak, afstof en met hernude moed en durf en krag en energie my eerste dag van my nuwe lewe in Korea kan aanpak.

Ons ry.

Sok Jin ry soos ‘n ware Jody Scheckter met so ‘n verlengstukstokkie aan die stuurwiel en hy maak polkatiekedraaie om halwe tiekies tussen verkeerdekantste verkeer in en deur sonder om te blik of te bloos. Ons ry ‘n deel binne wat soos ‘n tweede wêreldoorlogse Engeland lyk.

Ek het geen plek of tyd of rigting of bloedsomloop of lip of koue of hitte meer nie.

Ons stop in ‘n straat die helfte van ‘n perdekar, loop om ‘n hoek, trap ‘n paar trappies af, skop ons skoene uit in die voorportaal die grote van een sementblok, loop deur die kombuis die grote van die helfte van ‘n kleinhuisie op die plaas op die Kliprand, tree by ‘n deur verby van een tree by een tree en gaan ‘n kamer binne die helfte van die helfte van die helfte van ‘n gewonde Suid-Afrikaanse kamer. Op die vloer lê twee lappe. Daar is ‘n bruin gladde tapyt op die vloer.

Sok Jin druk knoppies en die vloer word warm.

Die lappies op die vloer is ons beddens. Die vloer verstaan ek is die vloer, maar anders as die vloere waaraan ek gewoond is, is die vloere oor water gebou en die water word elke dag warm gehou en bly ons dus op ‘n groot pot kookwater.

Pieter en Pieter help aflaai en maak kloekgeluide en pak eers uit en was gesig en kam hare en ons kom oor ‘n paar uur weer en dan besluit ons op plan A, B en C. Sok Jin knik en glimlag en trap rond en beduie hy moet ook nou eers verder voort en welkom tuis en wel te ruste.

...

My liewe vriende en familie. Ek het al van die ou woordjie gehoor, maar ek het nooit gedink dat dit werklik is wat die woord sê nie. Die oomblik wat almal die deur agter my toetrek, gaan ek ‘n klassieke goeie ou dosis van kultuurSKOK binne.

Ek kan glad nie funksioneer nie.
Ek kan nie dink of voel of roer of tot enige van my sinne kom nie.
Al wat tot min of meer naby my brein kan registreer, is: slaap.

Ek gooi beide stukkies lap bo-op mekaar. Ek gaan lê op die warm tapyte van ‘n vloer van water. Ek val in ‘n diepe slaap.

No comments: