Monday, 13 October 2008

Brief Vier

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 9 March 2001

Bemindes

Gisteroggend word ek wakker en dink ek bly nog in Pung Nap Tong, maar ek het nou al geleer om tussen die Engels en Koreaans deur twee maal te vra en voor die oog van die vertaler te skryf en te onderstreep en al die gevaartekens te probeer uitkanaliseer.

So beteken “ge” byvoorbeeld sesamsade, terwyl “ke” hond beteken. Julle kan julle dus die konsternasie voorstel as my lus vir sesamsade oor my kos in ‘n restaurant die oorhand kry en ek nie die “k” genoeg “k” nie en ‘n fietse stywe en goedgemarineerde hondjie bo-op my rys, in plaas van sesamsade, kry. Want, ja, die gerug is wel waar. Hond word nog steeds in sommige Koreaanse restaurante as ‘n lekkerny bedien.

Maar om terug te keer tot die verwarrende wakkerwordery in Pung Nap Tong. Gisteraand fluister een van my engele vr my net vir ingeval jy hopeloos verdwaal of vir iemand wil aanraai om vir jou te kom kuier vra net weer vir Sok Jin waar ons nou regtig bly.

Wel, geliefdes. Dit is Pung Nap Dong. En tot môre-oggend sal dit so bly. Hou egter ‘n spasie in jul adresboeke oop vir ingeval dit miskien na Pun Njap Kon of Pun Jap Bong of iets in dier voege gaan verander.

Bogenoemde is maar net nog ‘n klassieke voorbeeld van hoe die multitalige gekommunikeerdery daarna uitsien. Die Koreane dink en praat Koreaans. Ek dink Engels en praat gebroke Koreaans en teksboek Engels en as my moer nou so af en toe suur word, uiter ek ‘n ding of twee in Afrikaans waarvoor niemand my dan sal kan dagvaar nie.

(Vir dié van julle wat van nodelose feite hou: dong, soos in die huidige Pung Nap Dong, beteken “area”. Ek neem aan dis nou dieselfde ding soos in ons townships se “zone” of ons toentertydse lokasie. Ek bly dus in Pung Nap Zone/lokasie/dong van die moederstad, Seoul, in die landsuide van Korea.)

Môre is my eerste maand volbring in Seoul. Ek voel asof ek al ‘n leeftyd hier woon en werk. Ek voel gewoonlik so oor dinge wat my hart verbly en verwarm. Wat ek werklik van die ervaring geniet, is dat my brein konstant met nuwe inligting gestimuleer word. Die taal, die kos, die kultuur, die stad en sy struktuur.

Daagliks word daar in die Engelse koerant iets spesiaals vir die foreigners geadverteer om te doen of te bestudeer of te ervaar. En baie daarvan is gratis. Dit gaan ook oor kulturele mededeelsaamheid en nie net oor die land se ekonomie verstewig nie. So jy kan tradisionele instrumente leer speel, Koreaanse volkspele leer, leer kook in Koreaans (gespeseryde kole en spinasies en spruite en ander vreemde groenteykende dinge en ‘n kaasagtige produk gemaak uit sojabone en bonewater en seegrassop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies). En jy kan Koreaans gratis leer praat en kalligrafie leer en mediteer saam met die Buddhistiese monnike en potte bak en die moontlikhede is legio. Natuurlik wil ek dit alles en nog meer doen.

Ek sal maar by die mediteer begin sodat ek vinnig astraal kan transfigureer, want die afstande is soos van die Kaap tot in die Paarl tot by Clanwilliam se dam tot in Vredendal verby Lutzville.

Trots op myself het ek die eerste dag werk toe reeds ‘n bus op my eie tussen die paar miljoen Koreane deur geneem. Alles lyk aan die begin eenders. Ek kan niks lees of hoor of beluister of verstaan nie. Dit is nogal op ‘n sekere vlak besonder bevrydend, want jy weet niks van niemand se krisis of as een jou oor jou geel hare en jou meroen das en blou hemp en groen onderbaadjie onder die bolip sou bespreek nie.

Die aand wys my een kollega vir my waar die busstoppie is en of ek die pad huis toe alleen sal kan aanpak? Ja wat, sê ek, ek het dan nou vanoggend so mooi op eie stoom hier aangekom.

Maar, broeders en susters. In die nag lyk baie Koreane en Koreaanse geboue en naamlose strate wel heelwat anders. Ek klim by daardie ou busstoppie vlak voor my huis af en ek het nie die vaagste benul waar ek is nie.

Ek loop op en ek loop af.

Ek loop om die gebou waar ek seker is ek regs moet draai en dan is daar net ‘n muur en nie eers ‘n links om van ‘n regs te onderskei nie. Dan loop ek weer op en ek loop weer af en nog affer, om weer op en om die gebou te probeer loop. Dit is my eerste Koreaanse wintersnag tot laat in die koue buite. My lippe is later so uitgedroog en styf getrek, dit vorm een plat vlak met my tandvleise en die agterkant van my tong en keel. My bene het lankal enige gevoelswaarde verloor. My vingers is stokstyf en kliphard. Sou ek nou ‘n suikerkrisis ontwikkel, is daar nie ‘n druppeltjie bloed om uit hulle te forseer nie.

Vir dié wat dink dat ek as kind dalk te veel “Oom Kaspaas” in die Landbouweekblad tydens plastogkuiers op die Kliprand gellees het en nou aan ‘n oordrewe sin van oordrewendheid ly – glo my vry: ek verdwaal vir ‘n goeie drie ure en net voor een van my vingers klonk! voor my afbreek en in ‘n Koreaanse riool die stad afspoel, beloof ek my siel aan die Here as ek net nou onmiddellik ‘n oplossing vir die op- en afgelopery sonder ‘n links van ‘n regs te onderskei kan vind.

Nou moet ek nogal bieg. Klap ek my geestelike vinger in die laaste tyd, is my beskermengele op hulle poste. Die Here bederf my deur en deur. En nee, Pa, hoewel die kind nie rigtingbedonnerd is nie, dink ek ek moes die verdwaalervaring die eerste aand gehad het net om uit te vind hoe bewaar en beskermd ek werklik is.

Want waar ek ookal bel met my nuwe koorloos gekonnekteerde internetselfoon, antwoord niemand nie en die padkaartjie/blaadjie/flentertjie papier wat ek op my het om aan te dui hoe om na my kookwaterpotbed toe aangekruip te kom wat Sok Jin spesiaal vir my geteken het, is net so twee strepe wat sê: Saka Bakkery, op met dié straat in, toe nog: Pung Nap Dong, en al die pad tot by Kodak, en dan links en die tweede straat links. Ek verstaan daar niks meer van nie, want ek op en af voor Saka, maar daar is nóg Pung Nap Dong, nóg links, nóg regs.

Net voor ek die Johannes neurotiese bobbejaan agter die bevrore Koreaanse bult wil gaan haal en sien hoe ek soos Racheletjie de Beer die volgende oggend sonder die heldedaad van ‘n boetie wat ek met my dun verleefde jassie van die dood beskerm het, verkluim voor die Saka Bakkery wakker word, dink ek: bid. En ek sê net: Here, dankie dat jy nou een van my engele in ‘n Koreaanse mens laat verander en tussen die miljoene deur wat nie kan Engels praat nie hom na my toe stuur en sonder kaart of links of regs of enige idee waar dit ding of dong hom my laat verstaan en my nou onmiddllik uit hierdi koue na my kookwaterbed toe vat.

Ek loop toe hierdie Saka-winkel binne en beduie en wys flentertjie papier en so ‘n korrekte Koreaanse mannetjie skop sy skoentjies in sy winkel aan, neem my papiertjie uit my hand en loop en loop en loop saam met my deur die miljoene.

Kinderlik vol vertroue loop ek agterna.

Dan draai hy die papiertjie so en dan draai hy die papiertjie sus.

En ons loop en loop.

Tussen ons is daar ‘n woordlose gebondenheid wat die bekende klanke van sinne van bekende woorde van gemeenplasige tale te bowe gaan.

Ons loop en loop.

En skielik staan ons voor Saka met ‘n links en ‘n regs, met ‘n regs indraai in Pung Nap Dong. Dis tóé dat ek besef dat ek voor Saka Koffiewinkel en nie Saka Bakkery afgeklim het nie. Hoe moes ek nou ook weet daar’s ‘n Saka in elke dong?

Maar wat ek wel wis, is dat dit so moes wees. Dat ek nou weet ek is nooit alleen nie.

Ek wonder of ek my beskermengel om die hals mag val. Met ‘n kopknik verdwyn hy in die donkerverligte strate.

En ek stap met ‘n huppel in my hart Pung Nap Dong binne en ek weet: ek is by die huis en wil nêrens anders bly nie.

Nog nooit was ‘n kookwaterbed so warm en so mooi soos op my eerste nag, net voor middernag van die werk af, toe ek onder my Koreaanse lap, met my heup op die vloer, vas en vaster die slaap van nuutgevonde warmte en her- en weer ontdekte geloof en beskerming en onvoorwaardelike bewaring slaap nie.

No comments: