Showing posts with label Sok Jin. Show all posts
Showing posts with label Sok Jin. Show all posts

Friday, 17 October 2008

BRIEF VYF

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject: Laat die kindertjies na my toe kom
Date sent: 4 February 2001

En die eerste dag is soos ‘n see van kindertjies vanaf kwart oor tien soggens tot aguur saans. En of ek nou weet of ek in die Koreaanse kinderskaarwater kan swem, spring John Teacher in die diep kant in en ek trap-trap en hoes en proes en kort voor lank is daar geen vaste grond in sig nie.

Die sesjarige kom in ‘n klossie dosyn die kamertjie binnegehardloop. Hulle beloer en bekyk en giggel agter bak handjies. Kort voor lank word die hare op my arms die hoofaantrekkingspunt van Koreaanse peuterbespreking. So ook die kleur van my oë en elke kolletjie op my vel en elke nuanse en skakering van my hare.

Met ootmoedige bewondering beduie hulle na my hare, kyk diep in die oë en met ‘n vingertjie wat om weerspreking vra, sê hulle: golden. Your hair – it’s golden.

Na twee vyftigminuut klasse in die oggend van EYES, that’s right – it’s EYES en THAT’S YOUR FACE. OLGOOL – FACE en hope snotneusies afvee en ‘n paar honder maal gil: SIT DOWN! FACE! QUIET! BE QUIET! OLGOOL – FACE! FACE! breek my stem en ‘n laatoggend lunchtyd min of meer saam aan.

Ek en menere Pieter en Pieter en Sok Jin skop ons skoentjies voor die geel saal van die kleintjies wat as die yellow class bekend staan uit, trippe oor die warm vloer tot in die hoek by die deur van die klein kombuisie/middagete-eetplek. Om ‘n miniatuur langwerpige kombuistafel sit ek en die Pieters en Sok Jin en wag op die twee kombuisdames om ons te bedien.

Hulle arriveer met warm sagte lywe en warmer glimlagte met piepklein silwer bakkies klewerige wit rys (bap) en plaas ‘n bakkie voor elkeen van ons neer terwyl Sok Jin ‘n silwer lepe en twee silwer chop sticks stokkies voor ons neersit. Die res van die tafel is bedek met blou plastiese houertjies vol suur gespyseryde kooltjies en spruite (kimchi), gemarineerde spinasie, ‘n bakkie met versoet/versuurde raap, klein blokkies gedroogde seegras en dan gewoonlik ‘n vleisdingetjie soos gedroogde vissies in nog meer versuurde groete. Almal help saam uit die kommuniële bakkies groente met die stokkies. Net oor die bakkies rys kry jy alleenreg. Partymaal is daar ‘n stomende pot seegrassop (mee jok gook) op die stoof aan die prut en word dit saam met die rys en die warm lywe en glimlagte in piepklein bakkies bedien. Twee van my verhemelte/palet hoogtepunte tot dusver was aartappelsop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies.

Tussendeur drink ons boontjiewater (kawng mool) en hoe kan ek vergeet van my gunsteling der gunstelingproeseltjies, selfs toe ek nog in Suid-Afrika geleef het: toobo – tofu in klein warm blokkies gebraai en met sojasous bedek.

Die twee kombuisdames vermoed dat ek ondervoed is. Aan die begin beduie ek verwoed: gaw gee, tak gaw gee, seng son – a nee yo!! Vleis, hoender, vis – nee! Die dames kry ‘n beteuterde trek op hul gesigte, asof ek hul persoonlik teleurgestel en ‘n intieme moment met hul geweier het. Hoe meer ek beduie dat daar meer as genoeg is om die liggaam aan mekaar te hou om die uitdagings van die siel te bowe te kom, hoe meer kry hulle hierdie trek op hul gesigte: vir jou sal ons nog vet voer, mannetjie!

As ek aan die begin, geselshonger, voor die rekenaar sit, en vinnig my e-mail pitkossies oor die hele wêreld binne die eerste tien minute van middagete op datum probeer kry, kom soek die een kombuistannie my. Jy moet kom eet, sê sy op Koreaans. Daar’s seegrassop. Jou gunsteling.

As ek dan net gou die komma en punt van my geskrywe probeer klaar maak, stuur sy vir Sok Jin om my te kom roep. Mmm, lekker warm seegrassop, nes moeder se boontjiewintersoppe destyds op Vredendal toe ek ‘n jong, honger na siel en verstand en gees, groeiende jong man was.
Ek probeer ekstra lekker geluide na die twee warm glimlaggende dames se kant toe maak terwyl ek die seegrassies glad en sout by my keel voel afgly. Ek sê driemaal: kam sa hamneeda (dankie) en knik my kop amper uit ‘n lit van my nek af om aan te dui hoe dankbaar ek vir al die warm sout/soet Koreaanse versterkings is, want kort voor lank keer ek terug na die klein klaskamertjie op die vyfde vloer en soos die kindertjies na my toe kom, is ek tog heimlik dankbaar vir die kombuisdames se indringende en energiegewende Koreaanse disse der eeue wat my nou gepanterser teen die koue en met hernude ywer effens sagter laat sê: face – olgool. Face. Sit down!

Wednesday, 08 October 2008

Brief Twee

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 2 March 2001

Liewe vriende en familie van my hart en siel

Ek is nou drie weke in Seoul en dit voel reeds soos ‘n leeftyd.

Ek probeer nog steeds met my e-mail reise op datum kom. Dit lyk darem asof ek in die pylvak is.

Ek tik op die oomblik by ‘n internetkafee om die hoek van waar ek bly vir ‘n skamele 6 rand per uur.

Internet is besonder gewild in Korea, maar so is rook ook en daar is nie allerlei oulike rookwette soos in Suid-Afrika nie.

Ek sit dus omring deur dertig plus Koreaanse jongelinge wat kettingrook en internetspeletjies speel.

Dit is halftwaalf, Sondagaand, en vir dié van julle wat vergeet het om ‘n prettige aprilgekdag te hê: maak dit ‘n simpel en perspienk Maandag en doen alles agterstevoor en twee maal vinniger of stadiger. Doen die stadige goed vinniger en die stadige goed vinniger. Dit sal julle pas – Marida en Sanet?

Buiten vir Leah heg niemand blykbaar veel waarde aan die dag nie. En ek kan julle ook nie meer heeltemal uithelp met oornag trou-aankondigings nie, want ek blyk verby die fase te wees. Slaap gerus, Moeder.

Van slaap gepraat.

Na my kultuurskok roes afslaap, word ek met verkwikte energie wakker en dit is verstommend wat ‘n paar ure se slaap aan die menslike psige kan doen. Hoewel my onmiddellike omstandighede nog steeds rommelings van ‘n paniekaanval by my nekwerwels en ruggraat laat afrol, is ek ten minste op dié stadium in staat om myself tot kalmte te waan.

Buite het my eerste Koreaanse yskoue laatwinterdonkerte op my neergedaal en omring deur veertien plus miljoen oosterse siele het ek nie die vaagste benul waar ek my bevind nie. Sok Jin moes inderhaas iewers heen en hy los vir my ‘n paar honderd won belgeld en hy maak vir my ‘n paar Koreaanse briewe vir ingeval ek wil gaan rondloop en moontlik verdwaal en my kollegas wil bel of gaan opsoek.

Ek weet nie eens waar die voordeur van die agterdeur van ons HUIS te onderskei is nie; laat alleen gaan rondloop en die hele Korea vol op publike telefone lê. Al wat ek op die stadium te eet het, is Provitas en Bar Ones wat ek by die dosyne saam met my gevlieg het vir suikerkrisisse op pad na my toekomstige sielestad, Seoul.

Voor Sok Jin vertrek, mor ek oor toiletpapier en water en letterlike twee sekondes later is hy terug met beide, wat my laat vermoed dat die beskawing nie te ver van my ongekaart en -getransporte huidige huis en haard is nie.

Ek gaan deur ‘n paar Johannes-neuroses van moontlike lae bloedsuikeraanvalle en hoe ek die vreemde donker koue strate op en af hardloop en op Koreaans probeer verduidelik dat ek dringend suiker nodig het voor ‘n diep en lewenslange floute my gaan oorval. Is natuurlik toe weer dat ek van my twee dosyn Bar Ones in my koffer onthou – asook die feit dat ek min of meer drie jaar gelede laas ‘n lae bloedsuikeraanval gehad het.

Op daardie stadium gebeur daar ‘n effens ferm klop aan die deur.

Dit is Pieter en Pieter. Wonder bo wonder het hulle die huis weer gevind, hoewel die omgewing voorheen heeltemal aan hul onbekend was. Hulle staan soos ou familie voor my nuwe huis se deur met gasbrandertjies en botteltjies gas en komberse en kossies en vroedvroustreke uit die boonste rakke.

Pieter die ouere kloek veral oor hoe mooi die kas van ‘n huis gemaak kan word en hoe gerieflik geleë dit is en ai, die vloer is te lekker warm en ons kuier oral oor die warm tapyt en hoe beter ek al klaar na net een drie ure slaapsessie lyk en die warm Koreaanse nessie dreun in sy kosyne, so word daar gekuier.

In komplete Gemini-styl is my eerste behoefte aan ‘n telefoon. Ek wil môre begin rondloop en ondersoek na my buurt instel, maar siende dat die strate nie name het nie en dat ek niks kan lees wat wel op die geboue geskryf staan nie, wil ek ‘n selfoon op my kan dra, vir ingeval ek verdwaal, sodat ek vir Pieter of Pieter kan bel om te beduie of te kom haal. Ons maak ‘n afspraak om die volgende dag te ontmoet om Techno-Mart toe te gaan.

Dit is ‘n tegnologiese shopping mall fantasie van vyftien vloere van tegnologiese wondere van dunbesnaarde vaartbelynder rekenaar-tv-skeppings tot ysblou, skuimpiepienk, draagbare cd-spelers tot ultradun lap tops en duisende derduisende selfone.

Nie lank na die Pieters se teekoppies koud is nie, krup ek onder my monnike kookwatervloerbed in en slaap die slaap van ‘n duisend arbeiders.

Die volgende môre voel ek tien jaar jonger en ‘n paar honderd lae ligter. Johannes die Ontdekker is wawyd op en wakker.

Badtyd word die eerste avontuur in sy aller eenvoud en primitiwiteit vanuit my Westerse oog. Die badkamer is ‘n pypie met ‘n tortkop wat aan die koue en warm kraan gekoppel is. ‘n Versiersuikerpienk skotteltjie en twee dikvet plastiese skoene wat hippo’s genoem word – onnodig om te sê: ook in versiersuikerpienk – maak die res van die badtafereel uit.

Eers word al die kleertjies buite die badkamerkassie uitgeskop, dan word die pienk bakkie met water gevul, die hippo’s aangeskoffel en siedaar: gereed vir bad en ‘n paar minute later vars en skoon en verfris vir dag nommer een op Koreaanse bodem. Ja, want die aardse baddery bring my direk aarde toe. G’n ure se staan onder die stort soos by die Pan Pacific nie. G’n ure se draai in die badkamer tot alles uitgedroog en ongemaklik oorstom en jeuk-gewas is nie.

Ek geniet die eenvoudige vinnige ritueel. My lyf kry net genoeg aandag om wakker en verfris te voel. Ek voel wel so effens soos Gulliver in ‘n land waar dinge ietwat kleiner geword het.

Geheel en al wakker word ek nou manhaftig.

‘n Kooplus en rondloop-aanval kom oor my.

Ek besluit om die ingeboudekashuis meer van ‘n nessie te maak voor Pieter en Pieter opdaag. Nou waar dinge in die donker taamlik vreemd en ver gelyk het, skaam ek my vir my angsneurose die vorige aand, want, my liewe vriende en familie, ek is omring van ‘n paar honderd kafees en groenteverkopers en twee plantwinkels op die hoek en ‘n kombers-en-kussing-en-duvet-winkel en kos en kos en kos en sal ek nog ‘n maal sê: kos – ‘n skamele straat van my af.

Ek koop minerale water en aarbeie en nog vrugte en ‘n allerprettigste pienk plant. Ek hardloop met my fondse huis toe en gaan dekoreer. Ek plak Tafelberg pienk en blou en helder en mistig in die middel van die kombuis. Ek sit poskaarte van die pasontdekte Kuala Lumpur oral rond. Ek strooi robynrooi aarbeie op blou oosterse borde in die slaapkamer. Die pienk plant kry ‘n ereplekkie in die meditasiehoek vir allerhande energieë kanaliseer. Ek begin so effens asemhaal en ontdooi en ontlaai. My lippe dui nog steeds aan dat die weer daarbuite nie mee speletjies te speel is nie. Styf getrek en kurkdroog lek ons elke minuut lippies nat.

Marida se geskenk bruin en swart pakke hang bo Sok Jin se kop ten die muur. Gelukkig gebruik niemand hier klerekaste nie. Alles hang op staanders on in die oopte teen mure en kaste.

Van op die vloer slaap tot klere buite kaste hang tot kossies en water en die eenvoudige manier waarop mense om my leef, begin dinge al hoe bekender voel – asof ek in ‘n vorige lewe in Korea was. Na die aanvanklike kultuurskokmoment is ek nou aan die teenoorgestelde end. Slegs ‘n dag later en ek voel asof ek al reeds ‘n hele aantal jare hier deurleef het.

Amper donkernamiddag later daag Pieter en Pieter by die voordeur op. Ons loop in die koue lug met my stywe lippe wat styf en stywer trek. Ons neem bus so-en-so tot by punt A en stop voor ‘n allemintige gebou met die naam in geel en wit: Techno-Mart.

Op en af in die gebou en verby duisende derduisende selfone en cd-spelers en walkmans en wasmasjiene en lap tops en tv’s en rekenaars en nog cd’s en nog en nog selfone. My kop draai, maar ek maak of ek dit alles gewoond is. Ons loop goedsmoeds na enige selfoonhoek en begin selekteer en fynproe en oor en weer bespiegel en te kiwwel en redekawel om tussen derduisende selfone tot een besluit te kom.

Ek het nog altyd ‘n groot, maar groot, kwessie gehad wanneer dit by vinnige besluitneming en materiële dinge kom. Wat as dié kleur môre mooier is as dié? En wat as dié klank fyner is as dáárdie? En so aan. En so aan. En so aan.

Pieter die ouere staan en bruil hier in my nek en sê: Koop dié een. Dis splinternuut en spotgoedkoop en jy kan nie verkeerd gaan nie.

Die splinternuwe, spotgoedkope selfoon is so ‘n blokkerige silwergrys handgrote nommertjie wat pas as koordlose internet op die mark verskyn het – vir ‘n skamele R120. Ja, Dames en Here. Julle het reg gelees. ‘n R120.

In Korea gebruik van die 25 miljoen volwassenes in Suid-Korea blykbaar 23 miljoen selfone. Dié dat dit so goedkoop is. Dieselfde foon sal in Suid-Afrika min of meer R1200 kos. Nou weet ons.

Vyf minute later is ek gekonnekteer en internetkoordloos vir ‘n skamele R250. My nommer is 018 857 9966 vir ingeval iemand gek genoeg is om my teen R10 ‘n kwart minuut Korea toe te wil bel.

Ek wens ek kon vir jou ‘n selfoon stuur, Leah, maar ek dink hulle werk meestal net plaaslik. Ek het selfs een gesien in die vorm van ‘n doodskis met ‘n kruis op. Vrouens dra meestal perlemoenkleuriges en selfs goues en witroompienkes. Jonger mense het sulke piepklein wollerige hondgjies wat van hulle s’n afhang en die meeste mans dra hulle selfone aan ‘n ontwerperstou om hulle se nekke. Dink net watse fees sindikate met die hele ou spulletjie in Suid-Afrika sou hê.

Van selvloer drie tot vier tot vyf gaan ons by die strykysterrak verby en ek koop vir my so ‘n pers deurskynende nommer.

My materiële siel bevredig, keer ons terug na Johannes en Sok Jin se nessie in die tradisionele Koreaanse buurt van Pung Nap Tong in downtown Seoul.

Liefde:
Jo