Showing posts with label Vredendal. Show all posts
Showing posts with label Vredendal. Show all posts

Monday, 11 May 2009

BRIEF SEWE

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 18 March 2001

Liewe Afrikaners – landgenote

Ek dog julle sal die volgende gestewelde staaltjie van die Johanneskronieke in Korea saam met my geniet.

Soos in alle Oosterse lande skop ons hier in Korea ook ons skoentjies by die voordeur uit. Aan die begin het ek veters aanmekaar laat knoop en op sokkies gegly en amper een keer iemad anders se skoene op my uittog vanuit iewers aangetrek. Maar mettertyd verfyn ‘n mens die hele proses tot ‘n skoentjie-uitskop en –aanpluk ritteltit wat Kruik se balletgeselskap sou gehaal het.

My kollega, Pieter die ouere, suggereer toe dat ek vir my sulke preutse flip-on’s koop, wat nóg geslag, nóg styl, nóg geld kos. Vir ‘n skamele R12 koop ek vir my hierdie vaalgrys en rooi gestreepte lapskoentjies, met sulke masseringspunte op die binnesole en ‘n dofbruin label wat voetgrootte in die middel van die skoen vasgewerk is en ‘n albatros met ‘n vliegende voël daarby aandui. In plaas van nou op my sokkies rond te gly, glip ek die nerd’s de luxe nommers aan my voete en van die enkels af ondertoe, lyk ek soos een van daardie kinders wat ons liefs op skool sou vermy (dis nou as dinge van die vlees prioriteit nommer een in onse skoolse lewens was).

Maar die skoentjies, soos dit soms met minder visueelbedeelde dinge in die lewe gaan, word een van my gunstelingmomente uit my wardrobe, en ek trippe en flip op en flip af deur my twee tree by twee tree kombuis tot in my vier tree by vier tree kamer, met gemasseerde voetsole en g’n glip of val of glyoomblikke nie. Ek moet bieg dat ek nog altyd so ‘n effense ding oor styl en ‘n tikkie dramatiese flambojansie gehad het. Deur die genade is dit net Sok Jin wat my, in die intimiteit van ons binnekamer, met die koekierige trappers aan beskou – alhoewel ek vermoed dat Sok Jin heeltemal onbewus van my worstelstryd rondom die vleeslike flair of flairloosheid is.

Want, met alle respek aan my Koreaanse broeders en susters, sommige trek kleertjies in die openbaar aan waarin ‘n mens miskien nie jou huis op ‘n Maandagmôre sou skoonmaak nie. Dit is sulke sweetpakkerige ontwerpe met reselabels op, of nogal mooierige grys wollerige rokke, maar dan het iemand dit godgedink om “little kitty” in groot silwerwit letters op die bors vas te stryk. Al te pragtig.

Terselfdertyd moe ek sê dat jy ook die ander ekstreem van besondere stylvolheid kry van ontwerperskoene en dramaties/simplistiese snyerspakkies in kleure van diepgrys en blouswart en intensbruin en grys en swart. In Pung Nap Dong, waar ek huishou, loop die Koreaanse ooms en tannies en seuns en dogters meer dikwels in die sweetpakkerige little kittie’s rond en die geskoeisels sou ‘n treffer op ‘n bazaar sale by die Kaapse parade gewees het.

Sok Jin staan met sy twee voete tussen die soms ‘n label met ‘n sweetpak en soms ‘n meer gekultiveerde momentjie plat op die aarde. So vlieg hy een aand styf teen middernag van ons kookwaterbed af op en beduie iets van iets gaan koop. Ek verwag dat hy tien minute later met water en appels by die voordeur een van sy twee paar skoentjies gaan uitskop, maar ‘n halfuur later is daar nog taal nog tyding van ons Sok Jin. Teen half een in die môre kom ‘n spending sprek gelukkige Sok Jin met ‘n wit sak lap die huis binne. (As ek nou na Sok Jin en spending spree in dieselfde asem verwys, bedoel ek drie kledingstukke per seisoen). Hy’t om middernag gaan klere koop.

Die eerste toevoeging tot sy klerekas is een van daardie nou-sien-jy-die-label, nou-sien-jy-die-sweetpak, nou-sien-jy-my sweetpakke met ‘n lewensgrootte Nike-embleem in spierder as spierwit op ‘n bottelgroen sweetpakagtergrond. Die tweede aankopie is hierdie regte stylvolle warm, dik, groen trui met ‘n ritssluiter en lang arms en ‘n effense polonek – alles waarvan ek in ‘n trui hou.

Ek kwyl en dribbel en drip onmiddellik voor Sok Jin se voete oor waar die trui vandaan kom en kan ek ook een kry. Sok Jin probeer eers in sy suiwer kinderlike goedheid wegkom met: jy kan maar my trui van tyd tot tyd by my leen, maar ek hou voet by stuk e wil ook en wanneer en hoeveel en presies waar, tot Sok Jin uiteindelik belowe om my ook op ‘n middernag shopping ekskursie te neem.

Hoewel julle dalk mag dink dat ek erg voorwaarts in my truikoopbehoeftes is, sal net iemand wat aan langarmneurose ly, werklik verstaan. Nooit kry jy ‘n ding waarvan die arms nie na jou elmboë toe optrek nie, sodat as jy die keer ‘n amper te ang arm gewaad oor jou polse voel gly, is jy bereid om dit teen enige prys selfs van die persoon se lyf af te koop.

Intussen raak Sok Jin bedrywig met kar drywe vir’n vriend van hom wat gaan trou en ek word impotent in my truikooplus gelaat. Soos ek op en af loop en soek na Sok Jin se peasantboetiek, sien ek al hierdie Koreaanse seuns met sulke seksie skoentjies aan. Hulle dra, net soos ons Waterfront se kindertjies, band-oor-die-brug-van-die-voet Hang Tennerige ontwerpe saam met wit sokkies en swaai boud van kaffe tot pc (dis wat hulle internet hier noem) tot e-mart tot busstop tot huis. Hulle maak my heeltemal lus. En by gebrek aan Sok Jin en trui, koop ek vir die eerste keer in my lewe vir my jonglat flippende floppe en met grys sokkietjies en donkerblou en wit gestreepte seksie nommertjies flip flop ek nou self ook op pad na die pc.

Uiteindelik kry Sok Jin se vriend klaar getrou. Een aand kom ek by die huis met Sok Jin op sy kookwaterbed en ek sê: staan op, staan op. Dis tyd vir die trui. Sok Jin is heeltemal te mooi en ordintlik om nee te sê en hy trek sy kanariegeel en rooi label sweetpak aan en ek skop my seksie skoentjies tussen die bondel by die voordeur aan my voete e ons loop deur Pung Nap Dong/sone/lokasie op soek na my trui.

Ek voel so lekker vry en tienerhormone wel op in my. Ek trap my seksie skoentjies hier en ek trap my seksie skoentjies daar. Ek is oortuig almal kyk vir my.

By die winkel kry ons dieselfde styl as Sok Jin se trui – dis net in dié millennium se swart: diepgrys. (Ek het eenkeer in ‘n modetydskrif gelees: die swart van die nuwe millennium is grys. ?) Ek is eintlik bly dat ek ‘n trui in ‘n ander kleur as Sok Jin s’n kan kry en net vir die wis en die onwis pas ek dit aan vir arm-lank-genoeg en lig van gewig om die skouers. Sok Jin beduie spieël se kant toe en ek gaan besigtig die vonds van ‘n trui met die wonder van lank genoeg moue in die hoek voor die spieël.

Ek besluit toe sommer om net vir regte lekker ydelheid ‘n vinnige loer na my seksie skoentjies in die spieël te gee.

Met die afkyk voete toe, voel ek asof ek in een van daardie kindertydse nagmerries is, waar jy by die skool sonder jou onderste gedeelte van jou uniform aankom, want, dames en here, in die refleksie voor my staan Johannes met niks minder as sy dooslike huistrappers met die masseersle en die ovaalvormige label wat albatros sê en die hele skoen bedek, in kommin grys en getjekte, gelapte rooi nie. In my euforia van wil gaan trui koop, het ek met my kop in die wolke en my voete oor die aarde aan’t swewe tussen die bondel skoentjies by die voordeur die verkeerde geskoeiseltjies aan geflop. Hier loop ek allerseksie met my ou koekkruipers deur Pung Nap Don en dog die mense kyk vir die seksie sandaaltjies. Dis soos om met jou slippers by die kerk ingestap te kom en te dink jy het jou Italiaanse ontwerpersnommertjies aan.

Natuurlik is ek toe heel dankbaar dat ‘n paar miljoen Koreane smaakloos deur die lewe gaan, want as enigiemand agtergekom het dat dié my ou huispantoffeltjies is wat ek hier op straat aan het, laat hulle nie blik of bloos daarvan agterkom nie.

Nou moet ek byvoeg dat die tog terug huis toe heelwat platter op die aarde was.

Dit is maar moeilik om jou agterlyf seksie te swaai as jy weet jou geskoeisels skreeu: nerd! kosie! en kommin!

Vandag stap ek by die voordeur van die werk uit en ‘n man met ‘n olyfgroen t-hemp en ongelabelde olyfgroen sweetpakbroek slof-slof die pad af. Hy is so konserwatieflykend as kan kom, met kortgeknipte hare en niks wat hom eksentriek of vreemdsoortig daarna laat uitsien nie. Dis toe ek afkyk na sy voetgoed dat ek besef hy het ‘n paar hoëhak dames insteekskoene aan met diamantégespes teen die kante met die skoene wat omtrent drie nommers vir hom te klein is.

Soos een van die lelike suster loop hy houtgerus die pad af na wie weet waar en niemand bloos g’n blik of spraak g’n stilettosprook nie.

Ek is die enigste een wat oopmond aangaap en hom ‘n paar tree agtervolg om die gedoente uit te werk. Al wat ek kan dink, was dat hy óf ook nie afgekyk het toe hy in die bondel skoen aangeglip het nie, óf dat hy kaalvoet en guitig by sy mini-voetige vriendin gaan kuier het en dat sy hom gou gestuur het om sykouse vir haar werkuitrusting by die winkel om die hoek te gaan koop en dat hy toe haar skoentjies moes aanglip, sodat hy nie vuilvoet die kouse sou aanpas vir ingeval die lus hom oorweldig nie. Of dalk het hy ‘n skoenfetish, of miskien dra hy maar net gewoon hoëhakskoene met diamantégespes. Of dalk is te klein insteek hoëhakskoene met diamantégespes die nuwe millennium se ingevoerde Spaans-Italiaanse geskoeisels soos swart die nuwe millennium se grys?

Ek tik van wysvinger tot wysvinger by die pc, met my seksie skoentjies onder die tafel uitgeskop. Of sal ek liewer sê: sover ek weet was dit die seksie skoentjies waarmee ek laas die huis verlaat het, maar om nou die volle waarheid te vertel, laas toe ek die seksie skoentjies gesien het, het Sok Jin gevra of hy dit nie kan leen nie.

Miskien het ek net op my sokkies by die internetkafee kom tik? Laat ek net gou hier onder my op die vloer rondvroetel. As ek nie die seksie skoentjies kry nie, weet ‘n mens nooit watter ander opwindende dinge ek kan optel nie.

Ek mag dalk ook net met ‘n paar nommers te klein slip on’s met diamantégespes terugtrippel huis toe.

Met liefde

Van Pung Nap Dong. Seoul – Korea tot Kaapstad, Paarl, Vredendal, Lutzville, Koekenaap – Suid-Afrika.

J

Friday, 17 October 2008

BRIEF VYF

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject: Laat die kindertjies na my toe kom
Date sent: 4 February 2001

En die eerste dag is soos ‘n see van kindertjies vanaf kwart oor tien soggens tot aguur saans. En of ek nou weet of ek in die Koreaanse kinderskaarwater kan swem, spring John Teacher in die diep kant in en ek trap-trap en hoes en proes en kort voor lank is daar geen vaste grond in sig nie.

Die sesjarige kom in ‘n klossie dosyn die kamertjie binnegehardloop. Hulle beloer en bekyk en giggel agter bak handjies. Kort voor lank word die hare op my arms die hoofaantrekkingspunt van Koreaanse peuterbespreking. So ook die kleur van my oë en elke kolletjie op my vel en elke nuanse en skakering van my hare.

Met ootmoedige bewondering beduie hulle na my hare, kyk diep in die oë en met ‘n vingertjie wat om weerspreking vra, sê hulle: golden. Your hair – it’s golden.

Na twee vyftigminuut klasse in die oggend van EYES, that’s right – it’s EYES en THAT’S YOUR FACE. OLGOOL – FACE en hope snotneusies afvee en ‘n paar honder maal gil: SIT DOWN! FACE! QUIET! BE QUIET! OLGOOL – FACE! FACE! breek my stem en ‘n laatoggend lunchtyd min of meer saam aan.

Ek en menere Pieter en Pieter en Sok Jin skop ons skoentjies voor die geel saal van die kleintjies wat as die yellow class bekend staan uit, trippe oor die warm vloer tot in die hoek by die deur van die klein kombuisie/middagete-eetplek. Om ‘n miniatuur langwerpige kombuistafel sit ek en die Pieters en Sok Jin en wag op die twee kombuisdames om ons te bedien.

Hulle arriveer met warm sagte lywe en warmer glimlagte met piepklein silwer bakkies klewerige wit rys (bap) en plaas ‘n bakkie voor elkeen van ons neer terwyl Sok Jin ‘n silwer lepe en twee silwer chop sticks stokkies voor ons neersit. Die res van die tafel is bedek met blou plastiese houertjies vol suur gespyseryde kooltjies en spruite (kimchi), gemarineerde spinasie, ‘n bakkie met versoet/versuurde raap, klein blokkies gedroogde seegras en dan gewoonlik ‘n vleisdingetjie soos gedroogde vissies in nog meer versuurde groete. Almal help saam uit die kommuniële bakkies groente met die stokkies. Net oor die bakkies rys kry jy alleenreg. Partymaal is daar ‘n stomende pot seegrassop (mee jok gook) op die stoof aan die prut en word dit saam met die rys en die warm lywe en glimlagte in piepklein bakkies bedien. Twee van my verhemelte/palet hoogtepunte tot dusver was aartappelsop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies.

Tussendeur drink ons boontjiewater (kawng mool) en hoe kan ek vergeet van my gunsteling der gunstelingproeseltjies, selfs toe ek nog in Suid-Afrika geleef het: toobo – tofu in klein warm blokkies gebraai en met sojasous bedek.

Die twee kombuisdames vermoed dat ek ondervoed is. Aan die begin beduie ek verwoed: gaw gee, tak gaw gee, seng son – a nee yo!! Vleis, hoender, vis – nee! Die dames kry ‘n beteuterde trek op hul gesigte, asof ek hul persoonlik teleurgestel en ‘n intieme moment met hul geweier het. Hoe meer ek beduie dat daar meer as genoeg is om die liggaam aan mekaar te hou om die uitdagings van die siel te bowe te kom, hoe meer kry hulle hierdie trek op hul gesigte: vir jou sal ons nog vet voer, mannetjie!

As ek aan die begin, geselshonger, voor die rekenaar sit, en vinnig my e-mail pitkossies oor die hele wêreld binne die eerste tien minute van middagete op datum probeer kry, kom soek die een kombuistannie my. Jy moet kom eet, sê sy op Koreaans. Daar’s seegrassop. Jou gunsteling.

As ek dan net gou die komma en punt van my geskrywe probeer klaar maak, stuur sy vir Sok Jin om my te kom roep. Mmm, lekker warm seegrassop, nes moeder se boontjiewintersoppe destyds op Vredendal toe ek ‘n jong, honger na siel en verstand en gees, groeiende jong man was.
Ek probeer ekstra lekker geluide na die twee warm glimlaggende dames se kant toe maak terwyl ek die seegrassies glad en sout by my keel voel afgly. Ek sê driemaal: kam sa hamneeda (dankie) en knik my kop amper uit ‘n lit van my nek af om aan te dui hoe dankbaar ek vir al die warm sout/soet Koreaanse versterkings is, want kort voor lank keer ek terug na die klein klaskamertjie op die vyfde vloer en soos die kindertjies na my toe kom, is ek tog heimlik dankbaar vir die kombuisdames se indringende en energiegewende Koreaanse disse der eeue wat my nou gepanterser teen die koue en met hernude ywer effens sagter laat sê: face – olgool. Face. Sit down!